1 Petrus 2:12-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Handhaaf ’n voorbeeldige leefstyl onder die nie-Christene, selfs al kla hulle julle aan van wangedrag. Hulle sal dan julle goeie gedrag sien en God die eer daarvoor gee wanneer Hy kom rekenskap vra.

13. Omdat die Here dit so wil hê, moet julle alle gesag aanvaar – die koning as staatshoof

14. én die amptenare wat die koning benoem het. Die koning het ’n mandaat aan hulle gegee om dié wat kwaad doen, te straf, en erkenning te gee aan dié wat goeddoen.

15. Dit is God se wil dat julle goeie gedrag die mense wat uit onkunde van julle kwaadpraat, sal stilmaak.

16. Dis waar: Julle is nie slawe nie; julle ís vry mense. Maar moenie julle vryheid as dekmantel misbruik om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God se diensknegte te wees.

17. Julle moet alle mense respekteer. Julle moet al die lede van die huisgesin van God liefhê. Betoon ontsag aan God. Respekteer die koning.

18. Huiswerkers, julle moet die gesag van julle werkgewers volledig aanvaar. Dóén wat hulle vir julle sê – of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik.

19. Dit is immers genade as jy, omdat jy in gedagte hou wat God wil hê, onverdiende houe vat, al maak dit jou seer.

20. Daar is natuurlik geen verdienste daarin as julle die houe vat vir ’n oortreding nie. Om egter die houe te vat wanneer julle goeddoen, dít is iets besonders voor God.

21. Hierdie soort swaarkry maak juis deel uit van dit waartoe God julle geroep het. Christus, wat vir julle gely het, is julle voorbeeld. Volg in sý spore.

1 Petrus 2