1 Kronieke 22:5-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Want Dawid het gesê: “My seun Salomo is nog jonk en onervare, en die huis wat vir die Here gebou gaan word, moet indrukwekkend en groot wees, ’n roem en ’n sieraad vir alle lande. Daarom tref ek vir hom die voorbereidings.” Daarom het Dawid voor sy dood al groot hoeveelhede boumateriaal bymekaargemaak.

6. Daarna het Dawid sy seun Salomo laat haal en vir hom verduidelik dat hy ’n tempel vir die Here, die God van Israel, moes bou.

7. “Ek wou ’n tempel tot eer van die Here my God bou,” het Dawid vir hom gesê.

8. “Maar die Here het vir my gesê: ‘Jy het baie mense doodgemaak in die groot oorloë waarin jy geveg het. Omdat jy so baie bloed voor My op die grond vergiet het, is jy nie die een wat ’n tempel tot my eer sal bou nie.

9. Maar jy sal ’n seun hê wat vrede en rus in sy tyd sal beleef. Ek sal hom vrede met sy vyande en al die omliggende lande gee. Sy naam sal Salomo wees, en Ek sal vrede en rus in Israel gedurende sy regering gee.

10. Hy is die een wat ’n tempel tot my eer sal bou. Hy sal my seun wees, en Ek sal sy Vader wees. Ek sal die troon van sy koningskap oor Israel vir altyd bevestig.’

11. “Nou, my seun, mag die Here met jou wees en jou suksesvol maak terwyl jy die instruksies volg wanneer jy die tempel van die Here jou God bou.

12. Mag die Here jou ook wysheid en begrip gee sodat jy die opdragte van die Here jou God sal gehoorsaam terwyl jy oor Israel regeer.

13. Want as jy sorgvuldig al die opdragte en bepalings uitvoer wat die Here deur Moses vir Israel gegee het, sal jy suksesvol wees. Daarom, wees sterk en vol moed. Moenie bang of moedeloos word nie.

14. “Ek het hard gewerk om materiaal vir die bou van die tempel van die Here te verskaf – byna drie en ’n half ton goud en 34 000 ton silwer, en soveel yster en koper dat dit nie geweeg kan word nie. Ek het ook hout en klip bymekaargemaak, alhoewel jy meer nodig kan kry.

1 Kronieke 22