14. Ek sal hom vir baie lank oor my koningshuis en koninkryk aanstel, en sy troon sal vasstaan vir baie lank.”
15. Natan het teruggegaan na Dawid toe en hom alles vertel wat die Here gesê het.
16. Koning Dawid het toe ingegaan en voor die Here gaan sit en gebid: “Wie is ek, Here God, en wat is my familie dat U my tot sover gebring het?
17. En dit was maar nog net iets kleins vir U, o God. Daarom het U ook gepraat van my koningshuis wat lank ná my sal bestaan! U praat asof ek iemand groots is, Here God!
18. Wat meer kan ek sê van die manier waarop U my geëer het? U weet hoe ek eintlik is!
19. Ter wille van my, o Here, en volgens u wil het U al hierdie groot dinge gedoen en dit ook bekendgemaak.
20. “Here, daar is niemand soos U nie. Daar is geen ander God nie. Ons het nog nooit eers gehoor van ’n ander god soos U nie!
21. Watter ander nasie op aarde is soos Israel? Watter ander nasie, o God, het U gered uit slawerny om u volk te wees? U het ’n groot Naam vir Uself gemaak toe U u volk uit Egipte gered het. U het wonderdade gedoen en die nasies wat in u pad gestaan het, uitgedryf.
22. U het Israel gekies om u volk vir altyd te wees en U, o Here, het hulle God geword.
23. “En nou, Here, doen soos U belowe het oor my en my familie. Mag dit ’n belofte wees wat vir altyd geld!
24. En mag u Naam altyd gevestig en geëer word sodat die hele wêreld sal sê: ‘Die Here, die Almagtige, is God oor Israel!’ En mag die koningshuis van u kneg Dawid in u teenwoordigheid gevestig wees.
25. “O my God, ek was dapper genoeg om hierdie gebed tot U te bid omdat U openbaar het dat U ’n huis vir my sal bou, ’n ewige koningshuis!
26. Want U is God, o Here. En U het hierdie goeie dinge oor my, u kneg, belowe.
27. Dit het U behaag om my en my familie te seën sodat ons koningshuis vir altyd voor U sal bestaan. Want wanneer U seën, o Here, is dit ’n ewige seën!”