11. Maak ook nie saak wie gepreek het nie. Die belangrike feit is dat dít die Goeie Nuus is wat ons verkondig en wat julle in die geloof aangeneem het.
12. Sê vir my, as ons verkondig dat God Christus uit die dood laat opstaan het, hoe is daar dan sommige van julle wat beweer dat daar nie so iets soos die opstanding uit die dood bestaan nie?
13. As daar werklik geen opstanding uit die dood is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie.
14. Maar as Christus nie opgewek is nie, sou dit beteken dat ons verkondiging geen substansie het nie en dat julle geloof ook platval.
15. Dan sou ons as leuenaars omtrent God aan die kaak gestel word. Dan het ons mos teen die waarheid van God in getuig dat Hy Christus opgewek het, terwyl Hy dit in werklikheid nie gedoen het nie – dit wil nou sê, as die dooies nie opgewek word nie.
16. Ek sê weer, as die dooies nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie.
17. En as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof waardeloos en is julle nog vasgevang in julle sondes.
18. In daardie geval is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore!
19. As ons egter op niks meer sou kon hoop as dat Christus ’n verskil sal maak aan ons huidige lewe nie, sou ons definitief die bejammerenswaardigste mense onder die son wees!
20. Maar nou is die werklikheid totaal anders! God hét Christus uit die dood laat opstaan! Dit gee ons die waarborg dat ook die ander dooies sal opstaan.
21. Julle sien, soos die dood deur ’n mens, naamlik Adam, in die wêreld ingekom het, so het die opstanding uit die dood ook deur ’n mens werklikheid geword.
22. Almal van ons sterf omdat ons almal aan Adam, die eerste mens, verbonde is. Net so sal almal wat aan Christus, die ander mens, verbonde is, weer lewendig gemaak word.
23. Maar daar is ’n bepaalde volgorde hieraan verbonde: Christus was die eerste Een; daarna, wanneer Christus terugkom, sal al sy mense opgewek word.
24. Vervolgens sal die einde kom wanneer Jesus die koningsheerskappy aan God die Vader sal teruggee nadat Hy elke vyandige mag wat daar kan wees, onderwerp het.