1. Salomo roep toe die leiers van Israel, al die stamhoofde en familiehoofde, bymekaar in Jerusalem. Hulle moes die verbondsark van die Here uit die Dawidstad, ook bekend as Sion, na die tempel oorbring.
2. Op die feesdag in die vroeë herfs het almal in Israel by koning Salomo bymekaargekom.
3. Toe al die leiers van Israel daar was, het die priesters die ark opgetel.
4. Die priesters en Leviete het die ark van die Here, die tent van ontmoeting en al die gewyde toebehore uit die tent van ontmoeting gedra.
5. Koning Salomo en die hele gemeente van Israel was saam voor die ark bymekaar. Hulle het kleinvee en beeste voor die ark geoffer. Daar was so baie dat niemand dit kon tel of bereken nie.
6. Daarna het die priesters die verbondsark van die Here na die binneste heiligdom van die tempel, die Allerheiligste, gebring en dit onder die vlerke van die gerubs neergesit.
7. Die gerubs se vlerke was bo-oor die ark en die drahoute uitgesprei.
8. Die drahoute was so lank dat die punte vanaf die voorkant van die binneste heiligdom gesien kon word, maar nie van buite af nie. Hulle is vandag nog daar.
9. Daar was niks in die ark nie, behalwe die twee plat klippe wat Moses by Horeb daarin gesit het. Dit was toe die Here tydens die uittog uit Egipte ’n verbond met die Israeliete gemaak het.
10. Toe die priesters uit die heiligdom kom, het ’n wolk die tempel van die Here gevul.
11. Omdat die magtige teenwoordigheid van die Here die tempel gevul het, kon die priesters nie met hulle werk voortgaan nie.
12. Toe het Salomo gebid: “Die Here het gesê Hy wil in digte duisternis woon.
13. Ek het nou vir U ’n glansryke tempel gebou waarin U vir altyd kan woon!”
14. Terwyl die hele vergadering van Israel voor hom gestaan het, het die koning hom na hulle toe gedraai en hulle geseën.
15. Hy het gesê: “Loof die Here, die God van Israel wat met sy mond beloftes gemaak het en met sy hand dit aan my pa, Dawid, vervul het deur te sê:
16. ‘Vandat Ek my volk Israel uit Egipte gebring het, het Ek nie onder die stamme van Israel ’n stad gekies waar ’n tempel tot eer van my Naam gebou sou word nie. Maar Ek het wel Dawid gekies as koning oor my volk.’
17. “My pa, Dawid, wou hierdie tempel tot eer van die Naam van die Here, die God van Israel bou,