1 Konings 22:14-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Maar Miga antwoord: “So seker as die Here leef, ek sal net dit sê wat die Here my beveel om te sê.”

15. Toe Miga by die koning aankom, vra Agab vir hom: “Miga, moet ons optrek teen Ramot-Gilead? Of moet ons dit nie doen nie?”Miga het geantwoord: “Ja, trek maar op! Die Here sal die stad in die koning se mag oorgee.”

16. Maar die koning berispe hom: “Hoeveel keer moet ek jou nog sê om net die waarheid te praat wanneer jy namens die Here ’n uitspraak gee?”

17. Toe sê Miga vir hom: “In ’n visioen het ek Israel gesien, verstrooi op die berge soos skape sonder ’n herder. Die Here het gesê: ‘Hulle koning is dood. Laat elkeen van hulle maar in vrede teruggaan na sy huis toe.’”

18. “Het ek nie vir jou gesê nie?” sê die koning van Israel vir Josafat. “Hy gee nooit enige uitspraak ten gunste van my nie.”

19. Miga het voortgegaan: “Luister wat die Here sê. Ek het die Here gesien waar Hy op sy troon sit met die hemelse leërmag weerskante van Hom.

20. Die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab gaan oortuig om teen Ramot-Gilead oorlog te maak sodat hy daar kan omkom?’ Hulle het hiernatoe en daarnatoe gepraat.

21. Uiteindelik het die leuengees voor die Here gaan staan en gesê: ‘Ek sal dit doen!’“‘Hoe sal jy dit doen?’ vra die Here vir hom.

22. “Die gees het geantwoord: ‘Ek sal gaan en al Agab se profete oortuig om leuens te vertel.’“‘Jy sal slaag,’ sê die Here. ‘Gaan voort en doen dit.’

23. “U sien, die Here het ’n leuengees in die monde van die koning se profete gelê omdat die Here ’n ramp vir jou bepaal het.”

24. Toe gaan Sedekia seun van Kenaäna na Miga toe en slaan hom, deur die gesig. “Hoe het die Here se gees dan by my verbygegaan om met jou te praat?” vra hy.

25. Miga het geantwoord: “Jy sal dit binnekort agterkom wanneer jy van een vertrek na ’n ander vlug om weg te kruip!”

26. Toe beveel die koning van Israel: “Arresteer Miga en vat hom na Amon, die burgemeester van die stad, en na my seun Joas toe.

27. Sê vir hulle die koning beveel: ‘Sit hierdie man in die tronk en gee hom niks meer as brood en water totdat ek veilig van die oorlog af terugkom nie!’”

28. Maar Miga antwoord: “As die koning veilig terugkom, het die Here nie deur my gepraat nie.” Verder sê hy vir die omstanders: “Julle moet almal luister na wat ek gesê het!”

29. Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het toe teen Ramot-Gilead opgetrek.

1 Konings 22