6. “Ek het vir Nabot gevra om sy wingerd aan my te verkoop of dit met ’n ander wingerd te ruil, maar hy het geweier!” sê Agab vir haar. “Hy het gesê hy sal dit nooit vir my gee nie.”
7. “Is jy koning van Israel of nie?” vra Isebel. “Staan nou op en eet en moenie jou verder daaroor bekommer nie. Ek sal Nabot die Jisreëliet se wingerd vir jou kry!”
8. Sy skryf toe briewe namens Agab, plaas sy seël daarop en stuur dit aan die oudstes en leiers van die stad waar Nabot gewoon het.
9. In haar brief het sy beveel: “Kondig ’n vasdag af en laat Nabot op ’n prominente plek sit.
10. Laat twee gewetenlose manne teenoor hom gaan sit en laat hulle hom aankla: ‘Jy het God en die koning gevloek!’ Vat hom dan weg en stenig hom.”
11. Die oudstes en leiers het toe so gemaak soos Isebel in die brief geskryf het wat sy vir hulle gestuur het.
12. Hulle het ’n vasdag afgekondig en Nabot voor in die byeenkoms laat sit.
13. Twee gewetenlose manne het toe ingekom, teenoor hom gaan sit en Nabot voor al die mense aangekla: “Jy het God en die koning gevloek.” Hulle het hom toe uit die stad gesleep en met klippe doodgegooi.
14. Hulle laat weet toe vir Isebel: “Nabot is met klippe doodgegooi.”
15. Toe Isebel die nuus kry, sê sy vir Agab: “Staan op en gaan lê beslag op die wingerd wat Nabot nie aan jou wou verkoop nie. Jy kan dit maar kry, want hy is dood!”
16. Agab het dadelik na die wingerd toe gegaan en dit vir hom gevat.
17. Die Here het toe vir Elia die Tisbiet gesê:
18. “Gaan na Agab toe wat in Samaria as koning van Israel regeer. Hy is in Nabot se wingerd, wat hy in besit geneem het.