28. “Roep vir Batseba!” sê Dawid. Sy het ingekom en voor die koning gaan staan.
29. Die koning lê toe ’n eed af: “So seker as wat die Here leef wat my uit elke gevaar gered het,
30. soos ek tevore met ’n eed voor die Here, die God van Israel, vir jou belowe het, bevestig ek dit vandag dat jou seun Salomo ná my koning sal word en op my troon sal sit.”
31. Batseba buig toe weer laag voor hom en sê: “Mag my heer koning Dawid vir altyd lewe!”
32. Toe beveel Dawid: “Roep vir Sadok die priester, vir Natan die profeet en Benaja seun van Jojada.” Met hulle aankoms voor die koning
33. sê hy vir hulle: “Neem Salomo en my lyfwagte saam met julle na die Gihonspruit toe. My seun Salomo moet op my eie muil ry.
34. Sadok die priester en Natan die profeet moet hom daar as koning oor Israel salf. Blaas dan op die ramshoring en roep uit: ‘Lank lewe koning Salomo!’
35. Bring hom dan weer terug hierheen sodat hy kan ingaan en op my troon kan sit, want hy sal my as koning opvolg. Ek het hóm aangewys as heerser oor Israel en Juda.”
36. “Laat dit so wees!” antwoord Benaja seun van Jojada. “En mag die Here u God dit ook bevestig.
37. Mag die Here by Salomo wees soos Hy by u was, en mag Hy die regering van Salomo selfs groter maak as u regering!”