1 Konings 1:10-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Maar hy het nie die profeet Natan, die koning se lyfwag Benaja, of sy broer Salomo genooi nie.

11. Natan gaan toe na Salomo se ma Batseba toe en vra haar: “Het jy geweet Gaggit se seun Adonia het homself tot koning uitgeroep sonder dat ons heer Dawid dit weet?

12. As jy jou en jou seun Salomo se lewe wil red, moet jy nou maak soos ek sê.

13. Gaan dadelik na koning Dawid toe en sê vir hom: ‘My heer, het u dan nie vir my met ’n eed belowe dat my seun Salomo ná u koning sal wees en op u troon sal sit nie? Hoekom het Adonia dan nou koning geword?’

14. Terwyl jy nog met hom praat, sal ek kom en alles bevestig wat jy sê.”

15. Batseba het toe in die koning se slaapkamer ingegaan. Hy was teen hierdie tyd reeds baie oud. Abisag, die Sunemmitiese meisie, het hom versorg.

16. Batseba het laag voor hom gebuig.“Wat kan ek vir jou doen?” vra die koning haar.

17. Sy het geantwoord: “My heer, u het my voor die Here u God met ’n eed belowe: ‘Jou seun Salomo sal beslis ná my koning word en op my troon sit.’

18. Maar nou het Adonia die nuwe koning geword, sonder dat u iets daarvan weet!

19. Hy het baie beeste, vetgemaakte kalwers en skape geoffer. Boonop het hy al die koning se seuns, die priester Abjatar, en die opperbevelvoerder van die leër Joab uitgenooi. Maar hy het nie vir Salomo uitgenooi nie.

20. Nou wag die hele Israel op u om te beslis wie dan ná u koning sal word.

1 Konings 1