8. Yeshua sê vir hom: “Staan op, tel jou bedmat op en loop.”
9. Dadelik het die man gesond geword en sy bedmat opgetel en geloop en daardie dag was Shabbat.
10. Die Jode sê vir hom wat genees is: “Dit is Shabbat; dit is nie toegelaat vir jou om jou bedmat te dra nie.”
11. Hy antwoord en sê vir hulle: “Hy wat my gesond gemaak het, Hy het vir my gesê: ‘Tel jou bedmat op en loop’.”
12. Hulle vra hom: “Wie is die man wat vir jou gesê het: tel jou bedmat op en loop?”
13. Hy wat gesond geword het, het nie geweet wie Yeshua was nie, want Hy het Homself stilweg in die groot skare wat daar was, onttrek.
14. Na ’n tyd het Yeshua hom in die tempel gekry en vir hom gesê: “Let op, jy is gesond; moenie aanhou sondig nie sodat daar nie iets ergers as tevore met jou gebeur nie.”
15. Die man het gegaan en aan die Jode vertel dat dit Yeshua was wat hom gesond gemaak het
16. en hieroor het die Jode Yeshua vervolg en beplan om Hom dood te maak omdat Hy dit op die Shabbat gedoen het.
17. Yeshua self sê vir hulle: “My Vader is tot nou toe besig om te werk en Ek is ook besig om te werk.”
18. Hieroor het die Jode toe nog ernstiger beplan om Hom dood te maak omdat Hy nie net die Shabbat verbreek het nie, maar ook omdat Hy beweer het dat God Sy Vader is en daardeur gesê het dat Hy self ook gelyk is aan God.