Yirmeyahu 51:11-28 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

11. Maak skerp die pyle, vul die kokers! יהוה het die gees van die konings van die Mede opgewek, want Sy doel is teen Bavel, om dit te verwoes, want dit is die wraak van יהוה, die wraak vir Sy tempel.

12. Lig ’n banier op teen die mure van Bavel; sit ’n sterk wag uit, sit patrollies uit, sit manne in hinderlae, want יהוה het beide beplan en uitgevoer wat Hy aangaande die inwoners van Bavel gesê het.

13. Jy wat by baie waters bly, oorvloedig in skatte, jou einde het gekom, die maat van jou einde.

14. יהוה-Tzva’ot het by Homself gesweer: “Ek sal jou sekerlik vul met ’n populasie soos sprinkane en hulle sal uitroep met krete van oorwinning oor jou.”

15. Hy het die aarde gemaak deur Sy krag, die wêreld gegrond deur Sy wysheid en die hemel uitgestrek deur Sy begrip.

16. Wanneer Hy Sy stem laat hoor, is daar ’n geruis van waters in die hemel en Hy laat die wolke opgaan vanaf die einde van die aarde; Hy maak weerlig vir die reën en laat die wind uitkom uit sy opgaarplekke.

17. Die hele mensdom is dom, sonder kennis; elke goudsmid word beskaamd deur sy afgode, want sy gegote beelde is misleidend en daar is geen asem in hulle nie.

18. Hulle is nutteloos, ’n werk van bespotting; in die tyd van hulle straf sal hulle tot niet gaan.

19. Ya’akov se deel is nie soos hierdie nie, want Hy is die Maker van alles en van die stam van Sy erfenis; יהוה-Tzva’ot is Sy Naam.

20. “Jy is My oorlogshamer, My oorlogswapen en met jou verbrysel Ek nasies en met jou verwoes Ek koninkryke;

21. met jou verbrysel Ek die perd en sy ruiter en met jou verbrysel Ek die strydwa en sy ruiter;

22. met jou verbrysel Ek man en vrou en met jou verbrysel Ek grysaard en jeug en met jou verbrysel Ek die jongman en die maagd;

23. met jou verbrysel Ek die herder en sy trop en met jou verbrysel Ek die landbouer en sy span en met jou verbrysel Ek goewerneurs en heersers.

24. Ek sal Bavel en al die inwoners van die land van die Kasdeërs voor julle oë terugbetaal vir al hulle boosheid wat hulle in Tziyon gedoen het,” verklaar יהוה.

25. “Let op, Ek is teen jou, o verwoestende berg, wat die hele aarde verwoes,” verklaar יהוה; “en Ek sal My hand teen jou uitstrek en jou van die rotse af laat rol en Ek sal van jou ’n afgebrande berg maak.

26. Hulle sal selfs nie ’n klip van jou af vat vir ’n hoek of ’n klip vir fondasies nie, maar jy sal vir ewig verlate wees,” verklaar יהוה.

27. Lig ’n banier op in die land, blaas ’n ramshoring onder die nasies! Sonder die nasies teen haar af, roep die koninkryke van Ararat, Minni en Ashkenaz teen haar op, stel ’n aanvoerder teen haar aan, bring die perde op soos voetganger sprinkane!

28. Sonder nasies teen haar af, die konings van die Mede, hulle goewerneurs en al hulle leiers en elke land van hulle heerskappy.

Yirmeyahu 51