Y'hoshua 7:1-17 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Die seuns van Yisra’el het egter ontrou gehandel aangaande die dinge onder ban, want `Akhan, die seun van Karmi, die seun van Zavdi, die seun van Zerag, van die stam van Y’hudah, het van die bangoed gevat; daarom het die woede van יהוה ontbrand teen die seuns van Yisra’el.

2. Nou, Y’hoshua het manne van Yerigo af gestuur na `Ai wat naby Beit-Aven lê, oos van Beit-El en vir hulle gesê: “Gaan op en verken die land.” Die manne het opgegaan en `Ai verken.

3. Hulle het teruggekom na Y’hoshua toe en vir hom gesê: “Moenie al die manskappe laat opgaan nie; omtrent twee of drie duisend man kan opgaan na `Ai; moenie al die manskappe daarheen vermoei nie, want hulle is min.”

4. Omtrent drie duisend man het vanuit die volk daarheen opgegaan, maar hulle het gevlug voor die manne van `Ai.

5. Die manne van `Ai het omtrent ses en dertig van hulle mans doodgeslaan en hulle agtervolg van die poort af tot by Sh’varim en hulle op die afgaan verslaan; die binneste van die volk het versmelt en soos water geword.

6. Toe het Y’hoshua sy klere geskeur en met sy gesig op die grond geval voor die ark van יהוה, tot die aand toe, hy en die oudstes van Yisra’el en hulle het stof op hul koppe gegooi.

7. Y’hoshua het gesê: “Ag, Meester יהוה, waarom het U ooit hierdie volk oor die Yarden gebring om ons oor te gee in die hand van die Emoriete, om ons te vernietig? As ons maar gewillig was om oorkant die Yarden te bly!

8. Ag יהוה, wat kan ek sê aangesien Yisra’el die rug gedraai het voor hulle vyande,

9. want die Kena’aniete en al die inwoners van die land sal daarvan hoor en hulle sal ons omsingel en ons naam van die aarde af afsny en wat sal U vir U groot Naam doen?”

10. יהוה sê vir Y’hoshua: “Staan op, waarom het jy op jou gesig neergeval?

11. Yisra’el het gesondig en het ook My verbond oortree wat Ek hulle beveel het. Hulle het selfs van die bangoed gevat en beide gesteel en mislei. Meer nog, hulle het dit ook by hulle eie goed gesit;

12. daarom kan die seuns van Yisra’el nie staan voor hulle vyande nie. Hulle draai hul rug voor hulle vyande, want hulle het ’n vloek op hulle. Ek sal nie meer met julle wees tensy julle die bangoed onder julle uit vernietig nie.

13. Staan op! Sonder die volk af en sê: ‘Sonder julleself af vir môre, want so sê יהוה, die God van Yisra’el: “Daar is bangoed in jou midde, O Yisra’el! Julle kan nie standhou voor jul vyande totdat julle die bangoed onder julle uit verwyder het nie”.’

14. Kom dan môre vroeg nader volgens julle stamme en die stam wat יהוה deur die lot aanwys, moet naderkom volgens families en die familie wat יהוה aanwys, moet naderkom volgens huisgesinne en die huisgesin wat יהוה aanwys, moet naderkom man vir man.

15. Dit sal wees dat die een wat aangewys is met die bangoed, met vuur verbrand moet word, hy en alles wat aan hom behoort omdat hy die verbond van יהוה oortree en ’n skandedaad in Yisra’el begaan het.”

16. Y’hoshua het dus vroeg in die oggend opgestaan en Yisra’el laat naderkom volgens stamme en die stam van Y’hudah is aangewys.

17. Toe hy die families van Y’hudah laat naderkom, het hy die familie van Zerag aangewys; toe hy die familie van Zerag laat naderkom, man vir man, is Zavdi aangewys.

Y'hoshua 7