3. Julle moet om die stad trek, al die krygsmanne; trek een maal om die stad; so moet jy doen vir ses dae lank.
4. Sewe priesters moet ook sewe ramshorings voor die ark dra. Dan, op die sewende dag moet julle sewe maal om die stad trek en die priesters moet op die horings blaas.
5. Dit sal wees, as julle die geluid van die horing hoor wanneer hulle ’n lang klank op die ramshoring blaas (Tekiah), moet die hele volk hard uitskreeu van vreugde en die stadsmuur sal plat inval en die volk moet ingaan, elke man reg vorentoe.”
6. Y’hoshua, die seun van Nun, het die priesters geroep en vir hulle gesê: “Tel die verbondsark op en laat sewe priesters sewe ramshorings voor die ark van יהוה dra.”
7. Toe het hy aan die volk gesê: “Gaan vorentoe en stap rondom die stad; laat die gewapendes voor die ark van יהוה uit marsjeer.”
8. Dit het gebeur dat, toe Y’hoshua met die volk gepraat het, die sewe priesters, wat die sewe ramshorings voor יהוה gedra het, vorentoe gegaan en geblaas het op die horings en die ark van die verbond van יהוה het hulle gevolg.
9. Die gewapendes het voor die priesters wat op die horings geblaas het uitgegaan en die agterhoede het agter die ark aan gekom terwyl hulle gedurig op die horings geblaas het.
10. Y’hoshua het die volk egter beveel en gesê: “Julle mag nie uitskree of julle stem laat hoor nie en geen woord mag uit julle mond uitgaan nie tot op die dag dat ek vir julle sê: ‘Skreeu!’ dan moet julle skreeu met vreugde.”
11. So het hy die ark van יהוה om die stad gevat, een keer rondom; daarna het hulle in die kamp ingekom en die nag in die kamp deurgebring.
12. Y’hoshua het vroeg die oggend opgestaan en die priesters het die ark van יהוה opgetel.
13. Die sewe priesters wat die sewe ramshorings voor die ark van יהוה gedra het, het geloop en aanhoudend op die horings geblaas en die gewapendes het voor hulle geloop en die res van die menigte het agter die ark van יהוה aan gekom terwyl hulle voortgegaan het om op die horings te blaas.
14. So het hulle dan op die tweede dag een keer om die stad geloop en na die kamp teruggekeer. So het hulle vir ses dae lank gedoen.