Yesha'yahu 57:1-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. “Die regverdige kom om en daar is niemand wat dit ter harte neem nie en die toegewydes word weggevat terwyl niemand verstaan nie, want die regverdige word weggevat van die boosheid,

2. hy gaan in vrede in; wie in Sy opregte pad loop, hulle rus in hulle beddens,

3. maar kom hier, julle seuns van ’n towenares, nageslag van ’n owerspeler en ’n prostituut.

4. Teen wie maak julle grappe? Teen wie maak julle jul mond wyd oop en steek julle tong uit? Is julle nie seuns van rebellie, nageslag van misleiding nie,

5. wat julleself ontvlam tussen die eikebome, onder elke groen boom; wat die kinders slag in die klowe, onder die oorhang van die kranse?

6. Tussen die gladde klippe van die kloof is jou deel, hulle is jou lot; jy het ook vir hulle drankoffers uitgegooi, ’n graanoffer gebring. Sal Ek toegee aangaande hierdie dinge?

7. Jy het jou bed op ’n hoë en verhewe berg gemaak; jy het ook daarheen opgegaan om offers te bring.

8. Agter die deur en die deurkosyn het jy jou teken opgesit; inderdaad, ver weg verwyder van My, het jy jouself ontbloot en opgegaan en jou bed wyd gemaak. Jy het vir jouself ’n ooreenkoms met hulle gemaak, jy het hulle bed liefgehad, jy het na hulle manlikheid gekyk.

9. Jy het na die koning gereis met olie en jou reukwater vermeerder; jy het jou boodskappers ’n ver afstand gestuur en jouself laag afgebring, selfs tot by Sh’ol.

10. Jy is uitgeput deur die veelvoud van jou korrupte metodes; tog het jy nie gesê: “Ek sal ophou” nie! Jy het jouself afgetakel met die skuld van jou hande; daarom het jy nie reggemaak nie.

11. Oor wie was jy bekommerd en bevrees, toe jy gelieg het, My nie onthou het of aan My gedink het nie? Let op, Ek is die Afgesonderde Een van ouds en jy het My nie respekvol gevrees nie.

12. Ék sal My onpartydige opregtheid verklaar, maar jou werke sal vir jou geen voordeel bring nie.

13. Wanneer jy uitroep, laat jou versameling afgode jou bevry, maar die wind sal hulle almal oplig, ’n asem sal hulle wegvat, maar hy wat skuiling soek by My, sal die land erf en My afgesonderde berg besit.

Yesha'yahu 57