Yesha'yahu 37:7-25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

7. Let op, Ek sal ’n gees in hom plaas sodat hy ’n gerug sal hoor en na sy eie land sal teruggaan en Ek sal hom in sy eie land deur die swaard laat val.”’”

8. Toe het Rav-Shakeh teruggegaan en die koning van Ashur gekry vegtend teen Livnah, want hy het gehoor dat die koning Lakhish verlaat het

9. nadat hy hoor-sê het aangaande Tirhakah, koning van Kush: “Hy het uitgekom om teen u te veg.” Toe hy dit hoor, stuur hy boodskappers na Hizkiyahu om te sê:

10. “So moet julle vir Hizkiyahu, koning van Y’hudah, sê: ‘Moenie dat u God op wie u vertrou, u bedrieg nie deur te sê: “Yerushalayim sal nie in die hand van die koning van Ashur oorgegee word nie.”

11. Let op, u het gehoor wat die konings van Ashur aan al die lande gedoen het deur hulle volkome te vernietig. Dus, sal ú gespaar word?

12. Het die gode van daardie nasies, wat my vaders vernietig het, hulle bevry: Gozan, Haran, Retzef en die seuns van `Eden wat in Tel’assar was?

13. Waar is die koning van Hamat, die koning van Arpad, die koning van die stad van S’farvayim, van Hena en `Ivah?’”

14. Toe vat Hizkiyahu die brief uit die hand van die boodskappers, lees dit, gaan op na die huis van יהוה en sprei dit uit voor die Teenwoordigheid van יהוה.

15. Hizkiyahu het tot יהוה gebid en gesê:

16. “O, יהוה-Tzva’ot, God van Yisra’el, wat bo die gérubs op die troon is; U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde; U het die hemel en die aarde gemaak.

17. O יהוה, draai U oor en hoor! יהוה, maak oop U oë en sien en luister na al die woorde van Sangeriv, wat hy gestuur het om die Lewende God te onteer!

18. Dit is waar, o יהוה, die konings van Ashur het al die lande en hulle streke verwoes

19. en hulle gode in die vuur gegooi, want hulle was nie gode nie, maar die werk van mensehande, hout en klip, hulle het hul vernietig.

20. Nou, יהוה, ons God, bevry ons vanuit sy hand sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, יהוה, alleen God is.”

21. Toe stuur Yesha’yahu, die seun van Amotz, woord vir Hizkiyahu en sê: “So sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Omdat jy tot My gebid het aangaande Sangeriv, koning van Ashur,

22. is hierdie die woord wat יהוה teen hom uitgespreek het: “Sy het jou verag en met jou gespot, die maagdelike dogter van Tziyon; sy het haar kop agter jou geskud, die dogter van Yerushalayim!

23. Wie het jy onteer en sleg van gepraat? Teen wie het jy jou stem verhef en jou oë hoogmoedig opgelig? Teen die Afgesonderde Een van Yisra’el!

24. Deur jou diensknegte het jy יהוה onteer en jy het gesê: “Met my menigte strydwaens het ek gekom tot by die hoogtes van die berge, tot by die afgesonderdste dele van L’vanon en ek kap sy hoë seders af, die keur van sy sipresse en ek sal na sy hoogste pieke gaan, sy digste woud.

25. Ék het gegrawe en water gedrink en met die sool van my voete al die strome van Mitzrayim laat opdroog.”

Yesha'yahu 37