2. “Ek sal Mitzrayiet teen Mitzrayiet ophits en elkeen sal teen sy broer baklei en elkeen teen sy naaste, stad teen stad, koninkryk teen koninkryk.
3. Dan sal die gees van Mitzrayim gedemoraliseer wees in hulle en Ek sal sy strategie deurmekaar maak sodat hulle na afgode en geeste van die dooies en na mediums en spiritiste sal draai.
4. Meer nog, Ek sal Mitzrayim oorgee in die hand van ’n wrede meester en ’n magtige koning sal oor hulle heers,” verklaar die Meester, יהוה-Tzva’ot.
5. Die waters sal vanuit die see opdroog en die rivier sal verskroei en droog lê.
6. Die kanale sal ’n stank afgee; die strome van Mitzrayim sal uitdun en opdroog; die riete en biesies sal wegvrot.
7. Die weivelde langs die Nyl, by die mond van die Nyl en al die saailande langs die Nyl sal droog word, weggedryf en nie meer wees nie.
8. Die vissermanne sal kla en almal wat lyne in die Nyl uitgooi, sal rou en dié wat visnette uitsprei oor die waters, sal wegkwyn.
9. Meer nog, die vervaardigers van linne, gemaak van geborselde vlas en die wewers van wit stowwe, sal totaal mismoedig wees.
10. Die pilare sal vergruis word; al die loonarbeiders sal sielsbedroef wees.
11. Die prinse van Tzo’an is maar net dwase, die raad van Farao se slimste raadgewers het onnosel geword. Hoe kan julle vir Farao sê: ‘Ek is ’n seun van die wyse, ’n seun van antieke konings?’
12. Wel, waar is jou wyse manne? Laat hulle jou asseblief vertel en laat hulle verstaan wat יהוה-Tzva’ot se doel teen Mitzrayim is.
13. Die prinse van Tzo’an het dwaas opgetree, die prinse van Nof is mislei; Mitzrayim is op ’n dwaalweg gebring deur die hoeksteen van sy stamme.
14. יהוה het binne haar ’n gees van verdraaiing gemeng en die Mitzrayiet op ’n dwaalweg gebring in alles wat hy doen, soos ’n dronkaard steier in sy uitbraaksel.
15. Daar sal ook geen leier in Mitzrayim wees wat kop of stert, palmtak of biesie daarvan kan verstaan nie.
16. In dié dag sal die Mitzrayiet word soos vroue en hulle sal bewe en in angs wees vir die waai van die hand van יהוה-Tzva’ot wat Hy oor hulle gaan waai.
17. Die land van Y’hudah sal vir die Mitzrayiete ’n verskrikking wees; elkeen aan wie dit genoem word sal in angs daaroor wees, vanweë die doel van יהוה-Tzva’ot wat Hy teen hulle beplan het.