1. Wanneer julle die land deur die lot vir erfenisse verdeel, moet julle ’n deel aan יהוה offer, ’n afgesonderde deel van die land; die lengte moet vyf en twintig duisend el wees en die breedte twintig duisend. Dit sal afgesonderd wees binne sy grense reg rondom.
2. Hieruit moet daar vir die Afgesonderde Plek ’n vierkant wees van vyf honderd by vyf honderd el en vyftig el vir sy oop spasie reg rondom.
3. Vanaf hierdie stuk moet jy ’n lengte van vyf en twintig duisend el en ’n breedte van tien duisend el uitmeet en daarin moet die Afgesonderde Plek en die Mees Afgesonderde Plek wees.
4. Dit moet die afgesonderde deel wees van die land; dit moet vir die priesters wat die Afgesonderde Plek bedien, wat naderkom om יהוה te bedien, wees en dit moet vir hulle ’n plek wees vir hulle huise en ’n afgesonderde plek vir die Afgesonderde Plek.
5. Vyf en twintig duisend el in lengte en tien duisend el in breedte sal vir die Leviete wees, die bedienaars van die huis, as besitting vir hulle; stede om in te bly.
6. Julle moet aan die stad besit gee van vyf duisend el breed en vyf en twintig duisend el lank, langs die toegedeelde afgesonderde deel; dit sal vir die hele huis van Yisra’el wees.
7. Die prins sal aan weerskante van die afgesonderde deel en van die stadsbesit besit hê, langs die afgesonderde deel en langs die stadsbesit, aan die westekant na die weste en aan die oostekant na die ooste; in lengte ooreenkomstig een van die gedeeltes, vanaf die westelike grens tot by die oostelike grens.
8. Dit sal sy land wees as ’n besitting in Yisra’el; so sal My prinse nie langer My volk onderdruk nie, maar die res van die land aan die huis van Yisra’el gee volgens hulle stamme.”
9. So sê יהוה-God: “Dit is nou genoeg, prinse van Yisra’el; verwyder geweld en vernietiging en beoefen regverdige oordeel, onpartydige opregtheid. Stop jou onteiening van My mense,” verklaar יהוה-God.
10. Julle moet regverdige weegskale hê, ’n regverdige efa en ’n regverdige bat.
11. Die efa en die bat moet ’n vaste hoeveelheid wees sodat ’n bat ’n tiende van ’n homer bevat en die efa ’n tiende van ’n homer; hulle standaard sal wees volgens die homer.