Rigters 11:1-9 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Yiftag, die Gil’adiet, was ’n dapper vegter, maar hy was die seun van ’n hoer en Gil’ad was die vader van Yiftag.

2. Gil’ad se vrou het vir hom geboorte gegee aan seuns en toe die seuns van die vrou groot word, het hulle Yiftag uitgedryf en vir hom gesê: “Jy sal nie ’n erfenis hê in ons vader se huis nie, want jy is die seun van ’n ander vrou.”

3. Yiftag het weggevlug van sy broers af en gaan woon in die land van Tov en waardelose manne het by Yiftag aangesluit en saam met hom uitgegaan.

4. Dit het gebeur dat na ’n tyd, die seuns van `Ammon teen Yisra’el geveg het.

5. Toe die seuns van `Ammon teen Yisra’el geveg het, het die oudstes van Gil’ad gegaan om Yiftag uit die land van Tov te gaan haal

6. en hulle het vir Yiftag gesê: “Kom en wees ons hoof sodat ons kan veg teen die seuns van `Ammon.”

7. Toe sê Yiftag vir die oudstes van Gil’ad: “Het julle my nie gehaat en my uit my vader se huis weggejaag nie? Waarom kom julle nou na my toe, wanneer julle in die moeilikheid is?”

8. Die oudstes van Gil’ad het vir Yiftag gesê: “Om hierdie rede kom ons nou na jou toe terug: dat jy saam met ons kan gaan en teen die seuns van `Ammon veg en dat jy hoof kan word oor al die inwoners van Gil’ad.”

9. Yiftag sê vir die oudstes van Gil’ad: “As julle my terugvat om teen die seuns van `Ammon te veg en יהוה hulle aan my oorgee, sal ek julle hoof word?”

Rigters 11