Psalms 37:1-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Van Dawid. Moenie jaloers wees op die wetsoortreders of afgunstig wees op die werkers van onregverdigheid nie,

2. want soos gras sal hulle gou verwelk en soos groen kruie sal hulle wegkwyn.

3. Vertrou op יהוה en doen goed; bly in die land en soek na getrouheid.Ya’a 1:6

4. Vertrou in יהוה, dan sal Hy jou innerlike begeertes aan jou gee.

5. Vertrou jou pad aan יהוה toe en vertrou Hom en Hy sal dit uitvoer.

6. Hy sal jou onpartydige opregtheid laat uitkom soos die lig en jou regverdige oordeel soos die middag.

7. Rus in יהוה en wag geduldig op Hom; wees nie afgunstig op hom wat boosheid doen en voorspoedig is in sy lewe nie.

8. Hou op kwaad word en los die toorn; moenie jou opwerk, wat lei tot boosheid nie,

9. want die boosdoeners sal afgesny word, maar dié wat op יהוה vertrou, hulle sal die aarde erf.

10. Nog ’n klein rukkie en die wetsoortreder sal daar nie meer wees nie; ja, jy sal soek na sy plek en hom nie vind nie.

11. Die nederige sal egter die aarde erf en hulle verheug in die oorvloed van vrede.

12. Die wetsoortreder beplan teen die regverdige en kners met sy tande teen hom.

13. יהוה lag vir hom, want Hy sien dat sy dag kom.

14. Die wetsoortreders trek hulle swaard en buig hulle boë om die geteisterdes en behoeftige te laat val, om dié neer te slaan wat opreg lewe.

15. Hulle swaard sal in hul eie hart ingaan en hulle boë sal verbreek word.

16. Die klein bietjie wat die regverdige man het, is beter as die oorvloed van baie wetsoortreders,

17. want die arms van die wetsoortreder sal gebreek word, maar יהוה ondersteun die regverdiges.

18. יהוה ken die dae van die opregtes en hulle erfenis sal vir ewig bly.

Psalms 37