13. Hulle moet die as van die altaar verwyder en ’n pers doek daaroor uitsprei.
14. Hulle moet al sy bybehore, waarmee hulle daarby diens doen, daarop neersit: die vuurpanne, die vurke, die skoppe, die komme, al die bybehore van die altaar en hulle moet daar ’n dekkleed van dugongvelle oor uitsprei en sy pale insteek.
15. Eers nadat Aharon en sy seuns, by die opbreek van die kamp, klaar is met die toemaak van die Afgesonderde voorwerpe en van al die bybehore van die Afgesonderde plek, moet die seuns van K’hat kom om dit te dra sodat hulle nie aan die afgesonderde dinge raak en hulle sterf nie. Hierdie dinge van die Tent van Ontmoeting is dit wat die seuns van K’hat moet dra.
16. El’azar, die seun van die priester Aharon, is verantwoordelik vir die olie vir die lampstaander, die reukwerk van speserye, die voortdurende graanoffer en die salfolie; die toesig oor die hele tabernakel en oor alles wat daarin is: die Afgesonderde plek en sy bybehore.”
17. יהוה het met Moshe en Aharon gepraat en gesê:
18. “Moenie die stam van die families van K’hat onder die Leviete afsny nie,
19. maar doen vir hulle dit sodat hulle lewe en nie sterf wanneer hulle die volledig afgesonderde dinge nader nie: Aharon en sy seuns moet ingaan en elkeen aanstel oor sy dienswerk en oor wat hy moet dra,
20. maar hulle moenie ingaan om te kyk na die afgesonderde dinge nie, selfs nie vir ’n oomblik nie, of hulle sal sterf.”
21. יהוה het met Moshe gepraat en gesê:
22. “Tel ook die koppe van die seuns van Gershon, volgens hulle vaders se huise, volgens hulle families,
23. van dertig jaar oud en ouer, tot vyftig jaar oud, moet jy hulle tel, almal wat in diens tree om werk by die Tent van Ontmoeting te doen.
24. Dit is die dienswerk van die families van Gershon by die bediening en by die dra:
25. hulle moet die gordyne van die tabernakel dra, ook die Tent van Ontmoeting, sy dekkleed en die dekkleed van dugongvelle wat daar bo-oor is en die gordyn vir die ingang van die Tent van Ontmoeting,