Numeri 16:10-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. en dat Hy jou nader aan Homself laat kom het, jy en al jou broers, die seuns van Levi, saam met jou nie? Begeer jy nou ook die priestersamp?

11. Om hierdie rede is jy en jou hele groep saam teen יהוה vergader; wat is Aharon dat julle teen hom kla?”

12. Moshe het gestuur om Datan en Aviram, die seuns van Eli’av, te laat roep, maar hulle het gesê: “Ons sal nie opkom nie.

13. Is dit nie genoeg dat jy ons uit ’n land wat vloei met melk en heuning laat opkom het om ons in die wildernis te laat doodgaan nie, maar jy wil ook baas speel oor ons?

14. Meer nog, jy het ons nie gebring in ’n land wat vloei met melk en heuning en vir ons geen lande en wingerde as erfdeel gegee nie. Wil jy die oë van hierdie manne uitgrou? Ons sal nie opkom nie.”

15. Moshe was baie kwaad en het vir יהוה gesê: “Respekteer nie hulle offer nie. Ek het nie een donkie van hulle gevat en nie enige een van hulle skade aangedoen nie.”

16. Moshe het vir Korag gesê: “Jy en jou hele groep, sorg dat julle môre voor die Teenwoordigheid van יהוה is, jy en hulle en Aharon

17. en neem julle elkeen sy vuurpan en gooi daar reukwerk op en elkeen bring sy vuurpan voor die Teenwoordigheid van יהוה, twee honderd en vyftig vuurpanne; ook jy en Aharon, elkeen met sy vuurpan.”

18. Elke man het sy vuurpan gevat, vuur daarin gegooi, reukwerk daarop gelê en hulle het gaan staan by die ingang van die Tent van Ontmoeting, asook Moshe en Aharon.

Numeri 16