Mattityahu 26:48-61 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

48. Die een wat Hom oorlewer, Y’hudah, het vir hulle ’n teken gegee en gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is Hy, gryp Hom!”

49. Hy roep dadelik na Yeshua en sê: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid, my Meester” en hy soen Hom,

50. maar Yeshua sê vir hom: “Het jy hiervoor gekom, My vriend?” Toe kom hulle nader en slaan die hande aan Yeshua en gryp Hom

51. en een wat saam met Yeshua was, het sy hand uitgesteek, sy swaard uitgetrek en hy het die slaaf van die hoofpriester geslaan en sy oor afgesny.

52. Toe sê Yeshua vir hom: “Sit jou swaard in sy plek terug, want almal wat die swaard optel, sal deur die swaard doodgemaak word.

53. Of dink jy nie dat Ek die vermoë het om op hierdie oomblik tot My Vader te bid en Hy meer as twaalf legioene van engele tot My beskikking sal stel nie?

54. Hoe sou die voorspellings van die Skrifte dan vervul word dat dit só moet wees?”

55. In dieselfde tyd het Yeshua vir die mense gesê: “Het julle soos teen ’n dief uitgekom met swaarde en stokke om My te vang? Daagliks het Ek langs julle gesit en leer in die tempel en julle het My nie gevang nie,”

56. maar dit het alles gebeur sodat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die studentevolgelinge van Hom af weggegaan en gevlug

57. en die wat Yeshua gevange geneem het, het Hom weggevat na Kayafa, die hoofpriester, waar die leraars van die wet en die oudstes bymekaar was.

58. Shim’on Kefa het Hom van ’n afstand af gevolg tot by die paleis van die hoofpriester en hy het ingegaan en by die wagte gaan sit om die resultaat te sien.

59. Die leierpriesters, die oudstes en die hele Joodse Raad het getuienisse teen Yeshua gesoek om Hom dood te maak

60. en niks gevind nie. Alhoewel daar baie met onwaar getuienis gekom het, het hulle niks gevind nie. Eindelik kom daar twee

61. en sê: “Hierdie man het gesê: ‘Ek is by magte om die tempel van God af te breek en dit in drie dae op te bou’.”

Mattityahu 26