Mattityahu 20:23-32 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

23. Hy sê vir hulle: “My beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word, maar om te sit aan My regter- en aan My linkerhand is nie Myne om te gee nie, behalwe aan hulle vir wie dit, deur My Vader, voorberei is.”

24. Toe die tien dit hoor, was hulle kwaad vir die twee broers.

25. Yeshua het hulle geroep en vir hulle gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies baas speel oor hulle en die leiers outoriteit het oor hulle,

26. maar só moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees

27. en wie ook al tussen julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees;

28. net soos die Seun van die mens nie gekom het om bedien te word nie, maar om te dien en Homself as ’n Losprys vir baie te gee.”

29. Toe Yeshua uit Yerigo uitgaan, het ’n groot skare mense saam met Hom gegaan

30. en let op, twee blindes het langs die pad gesit en toe hulle hoor dat Yeshua verbygaan, skreeu hulle uit en sê: “Ons Meester, gee om vir ons, Seun van Dawid!”

31. Die skare het hulle bestraf dat hulle moes stilbly, maar hulle het al harder geskreeu en gesê: “Ons Meester, gee om vir ons, Seun van Dawid!”

32. Yeshua het gestop en roep hulle en sê: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?”

Mattityahu 20