14. Net so is dit nie die begeerte van julle Vader, wat in die hemel is, dat een van hierdie kleintjies verlore sal gaan nie,
15. maar as jou broer teenoor jou oortree, gaan wys hom tereg; slegs tussen jou en hom. As hy vir jou luister, dan het jy jou broer gewen,Deut 19:15
16. maar as hy nie luister nie, vat nog een of twee saam met jou sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord bevestig kan word,2 Thes 3:6
17. maar as hy nie na hulle luister nie, sê dit vir die gemeente en as hy ook nie na die gemeente luister nie, laat hom vir jou wees soos die belastinggaarder en die ongelowige.
18. Waarlik Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde vasbind, sal vasgebind wees, soos dit reeds in die hemel is en alles wat julle op die aarde losmaak, sal losgemaak wees, soos dit reeds in die hemel is.
19. Weer sê Ek vir julle: ‘As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat julle mag vra, sal dit vir julle gedoen word vanaf die Teenwoordigheid van My Vader wat in die hemel is,
20. want waar twee of drie in My Outoriteit en Karakter (Naam) bymekaarkom, daar is Ek saam met hulle’.”
21. Toe kom Kefa na Hom en sê: “My Meester, hoeveel keer sal ek my broer vergewe as hy teen my ’n oortreding begaan? Tot sewe keer toe?”
22. Yeshua sê vir hom: “Ek sê vir jou, nie tot sewe keer toe nie, maar tot sewentig maal sewe keer toe.
23. As gevolg hiervan word die Koninkryk van die hemel vergelyk met ’n koning wat sy diensknegte se rekenings bereken het
24. en toe hy begin bereken, bring hulle een na hom toe wat tien duisend talente geskuld het
25. en omdat hy niks gehad het om mee te betaal nie, gee sy meester bevel dat hy, sy vrou, sy kinders en alles wat hy het, verkoop moet word en hy terugbetaal word.
26. Daardie slaaf val voor hom neer op sy gesig en sê: ‘My meester, wees geduldig met my en ek sal u alles betaal.’
27. Die meester het meegevoel gehad vir daardie dienskneg en hom vrygelaat en sy skuld vergewe,
28. maar toe daardie slaaf uitgaan en een van sy medeslawe vind wat hom honderd denarii geskuld het, gryp hy hom aan die keel en sê: ‘Betaal my wat jy my skuld.’