Mattityahu 16:13-24 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

13. Toe Yeshua in die gebied van Kaisareia-Filippoi kom, vra Hy Sy studentevolgelinge en sê: “Wie sê die mense dat Ek is, net ’n seun van ’n mens?”

14. Hulle antwoord: “Sommige sê Yoganan, die Doper, maar ander Eliyahu en ander Yirmeyahu of een van die profete.”

15. Hy sê vir hulle: “Maar julle, wie sê julle is Ek?”

16. Shim’on Kefa antwoord en sê: “U is die Gesalfde Een, die Seun van die Lewende God.”

17. Yeshua antwoord en sê vir hom: “Jy is geseënd, Shim’on, seun van Yoganan, want vlees en bloed het dit nie aan jou openbaar nie, maar My Vader wat in die hemel is

18. en Ek sê verder vir jou: ‘Jy is Kefa. Op Hierdie Rots sal Ek My vergadering van uitgeroeptes bou en die hekke van Sh’ol sal nie daarteen kan staan nie.

19. Ek sal aan jou die sleutels van die Koninkryk van die hemel gee en wat jy ook op die aarde mag vasbind, sal vasgebind wees, soos dit in die hemel reeds vasgebind is en wat jy ook op die aarde mag losmaak, sal losgemaak wees soos dit in die hemel reeds losgemaak is’.”

20. Toe het Hy vir Sy studentevolgelinge bevel gegee dat hulle vir niemand mag sê dat Hy die Gesalfde Een is nie.

21. Van toe af aan het Yeshua begin om Sy studentevolgelinge in te lig dat Hy voorbereid is om na Yerushalayim te gaan en dat hy baie sal moet ly deur die oudstes, die leierpriesters en die leraars van die wet en vermoor sal word en op die derde dag sal opstaan.

22. Kefa vat Hom eenkant en begin Hom bestraf en sê: “Mag dit ver van U wees, my Meester, dat hierdie met U sal gebeur,”

23. maar Hy het weggedraai en vir Kefa gesê: “Gaan weg van agter My, teëstander! Jy is vir My ’n struikelblok omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van mense.”

24. Toe sê Yeshua vir Sy studentevolgelinge: “As enige iemand agter My aan wil kom, moet hy homself ontken en sy kruis opneem en saam met My gaan,

Mattityahu 16