Markos 6:35-51 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

35. Toe dit laat geword het, het Sy studentevolgelinge na Hom toe gekom en vir Hom gesê: “Die plek is verlate en dit is reeds laat.

36. Stuur hulle weg sodat hulle na die mark en dorpe rondom kan gaan om brood vir hulleself te koop, want daar is niks vir hulle om te eet nie,”

37. maar Hy sê vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hulle sê vir Hom: “Moet ons gaan en vir twee honderd denarii brood koop en vir hulle gee om te eet?”

38. Hy sê vir hulle: “Gaan kyk hoeveel brode julle hier het.” Toe hulle gaan kyk het, kom hulle en sê: “Vyf brode en twee visse.”

39. Hy het hulle beveel om almal op die gras te laat sit

40. en hulle het gaan sit in groepe van honderd en van vyftig.

41. Hy neem toe die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel, seën en breek die brode en gee dit aan Sy studentevolgelinge om dit voor te sit en Hy het ook die twee visse onder almal verdeel.

42. Almal het geëet en was versadig

43. en hulle het twaalf mandjies vol van die afgebreekte stukkies en vis opgetel.

44. Hulle wat van die brood geëet het, was ongeveer vyf duisend mans.

45. Dadelik het Hy Sy studentevolgelinge in die boot laat klim en hulle vooruit laat vaar na die oorkant, na Beit-Tzaidah terwyl Hy die mense wegstuur.

46. Nadat Hy hulle weggestuur het, het Hy in die heuwels ingegaan om te bid.

47. Teen die aand, was die boot in die middel van die see en Hy alleen op die land.

48. Hy het gesien dat hulle swaar roei, want die wind was teen hulle en omtrent die vierde wagbeurt het Hy al lopend op die see na hulle toe gekom en wou by hulle verbygaan.

49. Hulle het Hom op die water sien loop en het gedink dat Hy ’n vals verskynsel was en hulle het uitgeroep,

50. want hulle het Hom almal gesien en was bang. Dadelik praat Hy met hulle en sê vir hulle: “Wees bemoedig, אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, moenie bang wees nie.”

51. Hy het nader gekom en by hulle in die skuit geklim, die wind het gaan lê en hulle was in hulleself uitermate verbaas en verwonderd,

Markos 6