Markos 6:29-45 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

29. Toe sy studentevolgelinge dit hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en dit in ’n graf gesit.

30. Die wat uitgestuur is, het by Yeshua saamgekom en aan Hom alles wat hulle gedoen het, vertel en alles wat hulle aan ander geleer het

31. en Hy sê vir hulle: “Kom julle, ons sal alleen na die platteland toe gaan dat julle kan rus,” want daar was baie wat kom en gaan en hulle het selfs geen geleentheid gehad om te eet nie.

32. Hulle het alleen met die boot na ’n verlate plek gegaan

33. en die menigte mense het hulle sien weggaan en baie het Hom herken en te voet van al die stede af aangehardloop voor Hom uit na daardie plek toe.

34. Yeshua het uitgeklim, die baie mense gesien en vir hulle omgegee omdat hulle soos skape sonder ’n herder was en Hy het begin om hulle baie dinge te leer.

35. Toe dit laat geword het, het Sy studentevolgelinge na Hom toe gekom en vir Hom gesê: “Die plek is verlate en dit is reeds laat.

36. Stuur hulle weg sodat hulle na die mark en dorpe rondom kan gaan om brood vir hulleself te koop, want daar is niks vir hulle om te eet nie,”

37. maar Hy sê vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hulle sê vir Hom: “Moet ons gaan en vir twee honderd denarii brood koop en vir hulle gee om te eet?”

38. Hy sê vir hulle: “Gaan kyk hoeveel brode julle hier het.” Toe hulle gaan kyk het, kom hulle en sê: “Vyf brode en twee visse.”

39. Hy het hulle beveel om almal op die gras te laat sit

40. en hulle het gaan sit in groepe van honderd en van vyftig.

41. Hy neem toe die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel, seën en breek die brode en gee dit aan Sy studentevolgelinge om dit voor te sit en Hy het ook die twee visse onder almal verdeel.

42. Almal het geëet en was versadig

43. en hulle het twaalf mandjies vol van die afgebreekte stukkies en vis opgetel.

44. Hulle wat van die brood geëet het, was ongeveer vyf duisend mans.

45. Dadelik het Hy Sy studentevolgelinge in die boot laat klim en hulle vooruit laat vaar na die oorkant, na Beit-Tzaidah terwyl Hy die mense wegstuur.

Markos 6