Markos 12:33-44 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

33. en om Hom lief te hê vanuit die hele verstand, wil en emosie, vanuit die hele gees, vanuit al die begrip en verbeelding en vanuit al die kragte en om die naaste lief te hê soos jouself, is belangriker as enige brandoffers en offerandes.”

34. Toe Yeshua sien dat hy wyslik geantwoord het, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die Koninkryk van God nie” en niemand het verder gewaag om aan Hom vrae te stel nie.

35. Terwyl Yeshua in die tempel leer, vra Hy en sê: “Hoe is dit dat die leraars van die wet sê dat Die Gesalfde Een die Seun van Dawid is,Ps 110:1

36. want Dawid self het deur die Gees van Afsondering gesê: ‘יהוה het vir my Meester gesê: ‘Sit aan My regterkant totdat Ek U vyande ’n voetbank onder U voete gemaak het’.’

37. Daarvolgens noem Dawid self Hom “my Meester;” waarvandaan is Hy dan sy seun?” Baie mense het met plesier na Hom geluister

38. en Hy het vir hulle in Sy leringe gesê: “Pas op vir daardie leraars van die wet wat daarvan hou om in lang klere rond te loop,

39. hou van die beste sitplekke in die bymekaarkomplekke en die beste plekke by die feeste en hou van groete op die strate,

40. hulle wat die huise van die weduwees verslind (opeis) as ’n offerande en hulle gebede lank uitrek. Hulle sal ’n groter oordeel ontvang.”

41. Toe Yeshua naby die skatkamer gaan sit, sien Hy hoe die mense geld in die skatkamer ingooi en baie rykes het baie ingegooi.

42. Daar kom een arm weduwee en gooi twee klein geldstukkies in, wat saam, ’n quadrans is.

43. Yeshua roep Sy studentevolgelinge na Hom toe en sê vir hulle: “Dit is waar, Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkamer ingegooi het,

44. want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi, alles wat sy gehad het.”

Markos 12