Luka 14:7-24 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

7. Toe Hy sien hoe hulle die beste plekke uitkies, vertel Hy aan die gaste ’n vergelykende storie:

8. “Wanneer jy deur iemand na ’n fees uitgenooi is, moenie op die belangrikste plek gaan sit nie, ingeval hy iemand daar wil laat sit wat waardiger is as jy

9. en hy wat jou en hom genooi het, kom en vir jou sê: ‘Maak plek vir hierdie man.’ Jy sal dan met skaamte opstaan en op die agterste plek gaan sit,

10. maar wanneer jy genooi is, gaan sit op die agterste plek sodat wanneer hy kom wat jou genooi het, vir jou kan sê: ‘Vriend, gaan op na ’n meer eerbare posisie!’ Dan sal jy eer en lof hê voor almal wat saam met jou aan tafel is,Spr 25:7

11. want elkeen wat homself oplig, sal verneder word en wie homself verneder, sal opgelig word.”

12. Hy sê ook vir die man wat Hom genooi het: “Wanneer jy ’n fees of aandete gee, moenie jou vriende of jou broers of familie of ryk bure nooi nie sodat hulle jou nie miskien ook eendag weer kan nooi en jy so jou beloning ontvang nie,

13. maar wanneer jy ’n ontvangs hou, nooi armes, verminktes, kreupeles en blindes

14. en jy sal gelukkig wees omdat hulle niks het om jou mee terug te betaal nie, want dit sal jou beloon word in die opstanding van die onskuldiges.”

15. Toe een wat daar sit, dit hoor, sê hy vir Hom: “Gelukkig is hy wat brood eet in die Koninkryk van God.”

16. Yeshua sê vir hom: “’n Man het ’n groot ete gegee en baie mense uitgenooi.

17. Op die tyd van die ete het hy sy slaaf uitgestuur om vir die genooides te sê: ‘Kom, let op, alles is nou gereed.’

18. Almal het hulleself eenparig begin verskoon. Die eerste het vir hom gesê: ‘Ek het ’n stuk grond gekoop en ek moet noodgedwonge uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u om my te verskoon.’

19. ’n Ander een het gesê: ‘Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle toets. Ek vra u om my te verskoon.’

20. ’n Ander een het gesê: ‘Ek het ’n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie.’

21. Daardie slaaf het gekom en dié dinge aan sy werkgewer vertel. Toe het die eienaar van die huis kwaad geword en vir sy slaaf gesê: ‘Gaan haastig uit na die markplein en die strate van die stad en bring die armes, verminktes, kreupeles en blindes in hierheen’.

22. Die slaaf het gesê: ‘My meester, wat u beveel het, is gedoen en daar is nog plek.’

23. Toe sê die meester vir die slaaf: ‘Gaan uit op die hoofpaaie en na die grense en oortuig hulle om in te kom sodat my huis vol kan wees,

24. want ek sê vir julle dat nie een van daardie mense wat genooi is, van my ete sal proe nie.’”

Luka 14