Levitikus 13:8-28 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. en as die priester sien dat die uitslag op die vel versprei het, dan moet die priester hom onrein verklaar. Dit is melaatsheid.

9. Wanneer melaatse sere op ’n mens is, moet hy na die priester gebring word

10. en die priester moet hom ondersoek en let op, as daar ’n wit swelsel in die vel is wat die hare wit gemaak het terwyl daar rou vlees in die swelsel is,

11. dan is dit ’n verouderde melaatsheid op die vel van sy vlees en die priester moet hom onrein verklaar. Hy moet hom nie isoleer nie, want hy is onrein.

12. As die melaatsheid oor sy hele vel uitbreek sodat die melaatsheid die hele vel van die aangetaste persoon van sy hoof tot sy voete oordek, so ver as wat die oë van die priester kan sien,

13. moet die priester dit ondersoek en as die melaatsheid sy hele vlees oordek het, dan moet hy die aangetaste persoon rein verklaar: hy het heeltemal wit geword, hy is rein,

14. maar die dag as rou vlees aan hom gesien word, sal hy onrein wees;

15. as die priester die rou vlees sien, moet hy hom onrein verklaar. Die rou vlees is onrein, dit is melaatsheid.

16. As die rou vlees weer weggaan en hy wit word, moet hy na die priester kom.

17. As die priester hom dan ondersoek en let op, die aangetaste plek het wit geword, dan moet die priester die seer rein verklaar; hy is rein.

18. As daar in die vlees, naamlik in die vel, ’n sweer is en gesond word,

19. maar in die plek van die sweer ’n wit swelsel of ’n rooierige blink vlek kom, moet die priester daarna kyk.

20. As die priester dit sien en dit lyk dieper as die vel en die hare daarop het wit geword, dan moet die priester hom onrein verklaar; dit is ’n seer van melaatsheid wat in die sweer uitgebreek het,

21. maar as die priester dit ondersoek en daar geen wit hare op is nie en dit nie dieper as die vel is nie en dof van kleur geword het, dan moet die priester hom sewe dae lank isoleer.

22. As dit oor die vel versprei, moet die priester hom onrein verklaar; dit is ’n plaag,

23. maar as die helder vlek bly waar dit is en nie versprei het nie, is dit die litteken van die sweer en die priester moet hom rein verklaar.

24. Of as in die vel van die vlees ’n brandplek is en die rou vlees van die brandplek ’n rooierige wit of blink vlek ontwikkel

25. dan moet die priester dit ondersoek en let op, as die hare op die blink vlek wit geword het en dit dieper lyk as die vel, dan is dit melaatsheid wat in die brandplek uitgebreek het; daarom moet die priester hom onrein verklaar; dit is ’n melaatse seer,

26. maar as die priester dit ondersoek en let op, daar is geen wit hare op die helder vlek nie en dit is nie dieper as die vel nie en het dof van kleur geword, dan moet die priester hom sewe dae lank isoleer.

27. Op die sewende dag moet die priester hom ondersoek. As dit verder oor die vel versprei het, moet die priester hom onrein verklaar; dit is ’n melaatse seer,

28. maar as die helder vlek bly waar dit is, nie oor die vel versprei het nie en dof van kleur geword het, dan is dit die swelsel van die brandplek. Die priester moet hom rein verklaar, want dit is die litteken van die brandplek.

Levitikus 13