Handelinge 8:29-40 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

29. Toe sê die Gees vir Filippos: “Gaan na die wa toe en bly by hom.”

30. Toe hy naderkom hoor hy wat hy in die profeet Yesha’yahu lees en hy sê vir hom: “Verstaan u dit wat u lees?”

31. Hy antwoord: “Hoe kan ek verstaan as iemand my nie leer nie?” Toe nooi hy Filippos om op te klim en by hom te kom sit.

32. Die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was dít: ‘Hy is soos ’n skaap wat gelei word om geslag te word en soos ’n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy Sy mond nie oop nie.Yes 53:7-8

33. In Sy vernedering in gevangenis is Hy regverdige oordeel ontneem en wie sal vertel van Sy tyd, want Sy lewe word van die aarde af weggevat?’

34. Die gelowige antwoord en sê vir Filippos: “Ek smeek u, van wie sê die profeet dit, van homself of van iemand anders?”

35. Filippos het sy mond oopgemaak en van hierdie Skrif af begin en aangaande ons Meester, Yeshua, aan hom verkondig.

36. Terwyl hulle op pad is, kom hulle by water en die staatsamptenaar sê vir hom: “Let op, daar is water, wat verhinder my om gedoop te word?”

37. Filippos sê: “As u vertrou met u hele verstand, wil en emosie, is dit geoorloof.” Hy antwoord en sê: “Ek vertrou dat Yeshua, Die Gesalfde Een, die Seun van God is.”

38. Hy het beveel dat die wa moes stilhou en hulle altwee, Filippos en die staatsamptenaar, het in die water afgeklim en hy is gedoop.

39. Toe hulle uit die water uit opklim, het die Gees van יהוה vir Filippos weggevat en die staatsamptenaar het hom nie meer gesien nie, maar hy het met blydskap verder gereis.

40. Filippos is egter in Ashdod gekry en hy het van daar af gereis en in al die stede verkondig totdat hy in Kaisareia gekom het.

Handelinge 8