Handelinge 19:26-40 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

26. en julle sien en hoor dat nie alleen in Efesos nie, maar byna in die hele Asië, hierdie Sha’ul baie mense oortuig en laat wegdraai het deur te sê dat dít wat met hande gemaak word, geen gode is nie.

27. Nou is daar nie alleen gevaar dat hierdie ambag van ons verag sal word nie, maar ook dat die tempel van die groot godin, Artemis, as minder gereken sal word en dat haar wonderlikheid, wat die hele Asië, ja, die wêreld, vereer, verag sal word.”

28. Toe hulle dit hoor, is hulle met woede vervul en het geskree en gesê: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”

29. Daarop raak die hele stad in oproer en hulle storm soos een man na die teater en sleep vir Gaios en Aristargos, manne van Makedonia wat saam met Sha’ul gereis het, saam.

30. Toe Sha’ul tussen die mense wou ingaan, het die studentevolgelinge hom gekeer.

31. Leiers van Asië, wat sy vriende was, het ook ’n boodskap vir hom gestuur en hom versoek dat hy nie in die teater moes ingaan nie.

32. Die skare het deurmekaar geskree, sommige dit en ander dat, want hulle was deurmekaar en die meeste het nie geweet waaroor hulle bymekaargekom het nie,

33. maar die Jode het Alexandros vanuit die mense vorentoe gestoot en Alexandros het met die hand ’n teken gegee en wou hom by die mense verdedig.

34. Toe hulle herken dat hy ’n Jood is, gaan daar een geroep van almal op terwyl hulle omtrent twee ure lank skree: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”

35. Die stadsklerk het die skare stilgemaak en gesê: “Efesiërs, watter mens is daar tog wat nie weet dat die stad van die Efesiërs die dienaars is van die groot godin Artemis en van die beeld wat uit die hemel geval het nie?

36. Terwyl dit dan nie weerspreek kan word nie, behoort julle rustig te word en niks haastigs te doen nie,

37. want julle het hierdie manne gebring, wat nie tempelrowers is nie en ook nie kwaad gepraat het teen julle godin nie.

38. As Demetrios en sy ambagsmanne dan ’n saak teen iemand het, die hofsittings word gehou en daar is regters: laat hulle mekaar aankla,

39. maar as julle nog iets anders verlang, sal dit in die wettige vergadering besluit word,

40. want ons loop gevaar om oor die oproer van vandag tot verantwoording geroep te word, aangesien daar geen grond is waarop ons sal kan rekenskap gee van hierdie deurmekaarspul nie.”

Handelinge 19