Handelinge 19:1-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Terwyl Apollos in Korinthos was, het Sha’ul deur die boonste gebiede gereis en in Efesos gekom waar hy ’n paar studentevolgelinge gevra het:

2. “Het julle die Gees van Afsondering ontvang toe julle tot vertroue gekom het?” Hulle antwoord hom: “Ons het nog nie eens gehoor dat daar ’n Gees van Afsondering is nie.”

3. Hy vra vir hulle: “In watter doop is julle dan gedoop?” Hulle antwoord: “In die doop van Yoganan.”

4. Sha’ul sê vir hulle: “Yoganan het gedoop in die doop van berou oor en wegdraai van die sonde en aan die mense gesê dat hulle moes vertrou in die Een wat ná hom kom, dit is, in Die Gesalfde Een, Yeshua.”

5. Toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Outoriteit en Karakter van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een

6. en Sha’ul het hulle die hand opgelê en die Gees van Afsondering het op hulle gekom en hulle het in verskeie tale gepraat en geprofeteer.

7. Hulle was twaalf manne.

8. Sha’ul het in die bymekaarkomplek ingegaan en vrymoediglik vir drie maande met hulle geredeneer en hulle oortuig van die Koninkryk van God,

9. maar toe sommige hulle verhard en nie vertrou nie en voor die mense aanhou kwaadpraat van ‘die Pad van God’, het hy van hulle af onttrek en elke dag met die studentevolgelinge afsonderlik besprekings gehou in die skool van ’n sekere Turannos.

10. Dit het twee jaar lank aangehou totdat almal wat in Asië gebly het die boodskap van יהוה gehoor het, Arameërs, sowel as Jode.

11. God het baie wonderwerke deur die hande van Sha’ul gedoen

12. sodat selfs wanneer handdoeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle af weggegaan en demone uit hulle uitgegaan het.

13. Sommige van die rondreisende Jode, duiwelbesweerders, het dit gewaag om die Naam van ons Meester, Yeshua, te noem oor die wat bose geeste gehad het en te sê: “Ons dryf jou uit in die Karakter en Outoriteit (Naam) van díe Yeshua wat Sha’ul verkondig!”

Handelinge 19