Genesis 22:8-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. Avraham antwoord: “God sal vir Homself die lam vir ’n brandoffer voorsien, my seun.” So het hulle twee saam geloop.

9. Hulle het op die plek wat God vir hom uitgewys het gekom en Avraham het ’n altaar daar gebou en die hout reggesit en sy seun Yitz’gak vasgebind en hom op die altaar bo-op die hout gesit.

10. Avraham het sy hand uitgesteek en die mes gevat om sy seun dood te maak.

11. Die Engel van יהוה het van die hemele af na hom geroep en gesê: “Avraham, Avraham!” Hy antwoord: “Hier is ek!”

12. Hy sê: “Moenie jou hand aan die seun slaan of enige iets aan hom doen nie, want nou weet Ek dat jy God respekvol vrees omdat jy nie jou seun, jou uniek enigste, van My teruggehou het nie.”

13. Avraham het sy oë opgeslaan en ’n ram gesien wat agter hom in ’n bos aan sy horings vasgesit het. Avraham het gegaan en die ram gevat en dit as brandoffer in die plek van sy seun geoffer.

14. Avraham het dié plek: יהוה-Yir’eh genoem sodat vandag nog gesê word: ‘Op die berg van יהוה sal dit voorsien word (sal Hy daarna kyk).’

15. Die Engel van יהוה roep vir die tweede keer van die hemel af na Avraham

16. en sê: “’Ek het by Myself gesweer,’ sê יהוה, ‘omdat jy dit gedoen het en nie jou seun, jou uniek enigste, teruggehou het nie

17. sal Ek jou in seëninge seën en jou nageslag in vermeerdering vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is en jou nageslag sal die poorte van hul vyande in besit neem

18. en in jou SaadGen 3:15 sal al die nasies van die aarde geseën word omdat jy My stem gehoorsaam het.’”Hand 3:25; Gal 3:8,16

Genesis 22