Eksodus 37:1-12 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. B’tzal’el het die ark van akasiahout gemaak; sy lengte was twee en ’n half el en sy breedte een en ’n half el en sy hoogte een en ’n half el.

2. Hy het dit van binne en van buite oorgetrek met suiwer goud en hy het rondom ’n goue rand gemaak.

3. Hy het vier goue ringe daarvoor gegiet, aan sy vier voete, twee ringe aan die een kant en twee ringe aan die ander kant.

4. Hy het pale van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek

5. en hy het die pale in die ringe gesteek aan weerskante van die ark om die ark mee te dra.

6. Hy het ook ’n Toedekking van suiwer goud gemaak. Sy lengte was twee en ’n half el en sy breedte een en ’n half el.

7. Hy het ook twee gérubs van goud gemaak. Van slaanwerk het hy hulle gemaak, aan die twee ente van die Toedekking.

8. Een gerub aan die een ent en een gerub aan die ander ent. Hy het die gérubs aan die twee ente, saam met die Toedekking, uit een stuk gemaak.

9. Die gérubs het hulle vlerke boontoe uitgesprei gehou en die Toedekking met hulle vlerke toegemaak. Hulle gesigte was na mekaar toe en het na die Toedekking gekyk.

10. Hy het ook die tafel van akasiahout gemaak. Sy lengte was twee el en sy breedte ’n el en sy hoogte een en ’n half el.

11. Hy het dit met suiwer goud oorgetrek en daarvoor ’n goue rand rondom gemaak.

12. Hy het ook daarvoor ’n rand van ’n handbreedte rondom gemaak en hy het ’n goue krans vir die lys rondom gemaak.

Eksodus 37