Deuteronomium 28:32-51 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

32. Jou seuns en jou dogters sal aan ’n ander volk gegee word terwyl jou oë toekyk en voortdurend na hulle verlang, maar daar sal niks wees wat jy kan doen nie.

33. ’n Volk wat jy nie ken nie, sal die lewering van jou grond en al jou werk opeet en jy sal nooit iets anders wees as onderdruk en gebreek nie

34. sodat jy verblind sal word deur die gesig wat jou oë sal sien.

35. יהוה sal jou aan die knieë en aan die bene tref met seer swere waarvan jy nie gesond kan word nie, van jou voetsool af tot by die kroon van jou kop.

36. יהוה sal jou en jou koning wat jy oor jou aanstel, na ’n nasie laat gaan wat jy en jou vaders nie geken het nie en daar sal jy ander gode, hout en klip, dien.

37. Jy sal ’n verskrikking, ’n spreekwoord en ’n spot wees onder al die volke waarheen יהוה jou sal dryf.

38. Jy sal baie saad uitvat na die land toe, maar jy sal min inbring, want die sprinkaan sal dit opeet.

39. Jy sal wingerde plant en bewerk, maar jy sal nie van die wyn drink of van die druiwe inbring nie, want die wurm sal dit opeet.

40. Jy sal olyfbome hê in jou hele grondgebied, maar jy sal jou nie met olie salf nie, want jou olywe sal afval.

41. Jy sal seuns en dogters hê, maar hulle sal nie joune wees nie, want hulle sal in gevangeskap gaan.

42. Die sprinkaan sal al jou bome en die lewering van jou land besit.

43. Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër bo jou opstyg en jy sal laer en laer afsak.

44. Hy sal aan jou leen, maar jy sal nie aan hom leen nie; hy sal die kop wees en jy sal die stert wees.

45. So sal al hierdie vloeke oor jou kom, jou agtervolg en jou oorweldig totdat jy vernietig is omdat jy יהוה, jou God, nie wou gehoorsaam deur Sy opdragte en Sy reëls na te kom wat Hy jou beveel het nie.

46. Hulle sal ’n teken en ’n wonder op jou en jou nageslag word vir ewig.Rom 1:21

47. Omdat jy יהוה, jou God, nie met vreugde en oorweldigende blydskap van verstand, wil en emosie gedien het, vir die oorvloed van alles nie,Rom 1:24

48. sal jy daarom jou vyand, wat יהוה teen jou sal stuur, dien in honger, in dors, in naaktheid en in gebrek aan alles en hy sal ’n yster juk op jou nek sit totdat hy jou vernietig het.

49. יהוה sal ’n nasie teen jou bring van ver af, van die einde van die aarde af, soos ’n arend wat afduik, ’n nasie wie se taal jy nie sal verstaan nie,

50. ’n nasie van harde gelaatstrekke, wat geen respek het vir die oues en geen guns wys aan die jonges nie.

51. Meer nog, hulle sal die nakomeling van jou vee en die lewering van jou grond opeet totdat jy vernietig is; wat vir jou geen graan, geen nuwe wyn, geen olie, of die vermeerdering van jou beeste of kleintjies van jou kleinvee sal los totdat hulle jou tot niet gemaak het nie.

Deuteronomium 28