1. Die koning was diep aangeraak en het opgegaan na die vertrek bo die poort en gehuil en so het hy gesê terwyl hy loop: “My seun Avshalom, my seun, my seun Avshalom! As ek maar gesterf het in jou plek! Avshalom, my seun, my seun!”
2. Toe is dit vir Yo’av vertel: “Let op, die koning huil en rou oor Avshalom.”
3. Daardie dag het die oorwinning vir die hele volk in ’n rou verander omdat die volk dié dag gehoor het dat dit gesê is: “Die koning is bedroef oor sy seun.”
4. Die mense het dié dag stilletjies die stad ingekom, soos mense wat verneder is, wegsluip as hulle in die geveg gevlug het.
5. Die koning het sy gesig bedek en het uitgeroep met ’n harde stem: “My seun Avshalom! Avshalom, my seun, my seun!”
6. Toe kom Yo’av by die koning in die huis en sê: “U het vandag die gesigte van al u diensknegte, wat vandag u lewe en die lewe van u seuns en dogters en die lewe van u vroue en die lewe van u byvroue gered het, met skaamte bedek,
7. deur diegene wat u haat, lief te hê en diegene wat u liefhet, te haat, want u het vandag gewys dat prinse en diensknegte vir u niks is nie, want ek weet vandag dat, as Avshalom lewendig en ons almal vandag dood was, u tevrede sou wees.