2 Kronieke 34:2-19 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

2. Hy het gedoen wat reg was in die oë van יהוה en geleef volgens die manier van sy vader, Dawid en nie regs of links afgewyk nie.

3. In die agtste jaar van sy regering, terwyl hy nog jonk was, het hy begin om tot יהוה, God van sy vader Dawid, te bid en in die twaalfde jaar het hy begin om Y’hudah en Yerushalayim te reinig en die altare, afgode, beelde en afgodstempels af te breek.

4. Hy het die versierings, halssnoere, klokke en al die bome wat vir afgode gemaak is, in stukkies gebreek en fyn gemaal en hulle stof gestrooi oor die grafte van hulle wat aan hul geoffer het.

5. Hy het die beendere van die priesters wat hulle gedien het, opgegrawe en hulle gebring en verbrand en Y’hudah en Yerushalayim gereinig.

6. Hy het ook so gedoen in die stede van M’nasheh, Efrayim, Shim’on en Naftali, in hulle strate reg rondom.

7. Toe hy die altare omgegooi en die beelde stukkend geslaan en tot stof gemaal het en regdeur die hele Yisra’el verstrooi het, het hy teruggekeer na Yerushalayim.

8. In die agttiende jaar van sy regering, toe hy die land van Yisra’el en sy eie huis gereinig het, het hy vir Shafan, die seun van Atzalyahu en Ma’aseiyah, die stadsklerk geroep en vir hulle gesê: “Gaan, herstel die huis van יהוה, julle God.”

9. Toe hulle by die hoofpriester, Hilkiyahu, kom, het hulle die geld afgelewer wat in die huis van יהוה gebring is, wat die Leviete en die poortwagters versamel het uit M’nasheh en Efrayim en uit wat oorgebly het van Yisra’el en uit die hele Y’hudah en Binyamin en die inwoners van Yerushalayim.

10. Hulle het dit in die hande gegee van die werkers wat toesig gehad het oor die huis van יהוה en hulle het dit gegee aan die werkers wat die werk gedoen het aan die huis van יהוה, om die huis reg te maak en te pleister.

11. Hulle het dit ook gegee aan die skrynwerkers, die bouers en hulle wat kosbare stene en hout gekoop het vir die herstel en pleister van die geboue wat die konings van Y’hudah vernietig het.

12. Die manne het die werk aan die Afgesonderde Plek getrou gedoen en oor hulle was aangestel: Yagat en `Ovadyahu, Leviete uit die seuns van M’rari, asook Z’kharyah en Meshullam uit die seuns van die K’hatiete wat oor die sangers, Leviete wat met musiekinstrumente gespeel het

13. en almal wat die werk in enige diens gedoen het, was. Vanuit die Leviete was daar skrywers, opsigters en poortwagters wat as toesighouers gedien het.

14. Toe hulle die geld uitgebring het wat in die huis van יהוה ingebring is, het die priester Hilkiyahu ’n boek van die wet van יהוה gevind wat deur Moshe gegee is.

15. Hilkiyahu, die priester, sê vir Shafan, die skrywer: “Ek het die boek van die wet in die huis van יהוה gevind!” Hilkiyahu, die priester, het die boek vir Shafan gegee

16. en Shafan, die skrywer het aan die koning vertel wat Hilkiyahu vir hom gesê het en aan hom woord gebring en gesê: “Alles wat u aan u diensknegte opgedra het, doen hulle:

17. hulle het die geld spandeer aan die herstel van die huis van יהוה en verslag gedoen aan die opsigters en die uitvoerders van die werk.”

18. Toe vertel Shafan, die skrywer, aan die koning en sê: “ Hilkiyahu, die priester, het aan my ’n boek gegee.” Shafan het dit voor die koning gelees.

19. Dit het gebeur toe die koning die woorde van die wet hoor, dat hy sy klere geskeur het.

2 Kronieke 34