1. Ná hierdie dinge en die getroue dade wat Hizkiyahu gedoen het, het Sangeriv, die koning van Ashur, gekom en Y’hudah binnegedring en die versterkte stede beleër en aan die inwoners gesê: “Gee aan my ’n belofte en kom oor na my toe.”
2. Toe Hizkiyahu sien dat Sangeriv, koning van Ashur en sy leërmag gekom het om teen Yerushalayim te veg,
3. het hy raad gehou met sy prinse en sy magtige manne om die fonteine se waters weg te steek wat buite die stad is en hulle het hom gehelp.
4. ’n Groot hoeveelheid van die mense van Yisra’el het bymekaargekom en al die fonteine en die groot spruite wat dwarsdeur die land loop toegemaak en gesê: “Anders kom die koning van Ashur en kry baie water.”
5. Hulle het hulself versterk en een muur oorkant die ander opgebou en die kanaal wat Dawid gebou het besoedel. Hizkiyahu het wapens, skilde en werpspiese in oorvloed laat maak.
6. Hy het oorlogsbevelvoerders oor die manne aangestel; elkeen oor tien en hulle by hom op die markplein van die stad vergader en met almal van hulle gepraat en gesê:
7. “Wees onveranderlik sterk en dapper, moenie bang of moedeloos wees vir die teenwoordigheid van die koning van Ashur of as gevolg van al die leërmagte wat saam met hom gekom het nie, want daar is meer by ons as by hom.
8. By hom is ’n arm van vlees, maar by ons is יהוה, ons God, om ons te help en ons gevegte te veg!” Die manne is bemoedig deur die woorde van Hizkiyahu, koning van Y’hudah.
9. Hierna het Sangeriv, koning van Ashur, vir Rav-Shakeh en sy diensknegte na Yerushalayim gestuur, (hyself en al sy bevelvoerders het Lakhish beleër), na al die mense van Y’hudah, wat in Yerushalayim was, om te sê:
10. “So sê Sangeriv, koning van Ashur: op wie vertrou julle dat julle in Yerushalayim bly tydens die beleëring?
11. Hizkiyahu mislei julle, om julle van honger en dors te laat sterf en verder mislei hy julle deur te sê: יהוה, ons God, sal ons bevry uit die hand van die koning van Ashur.
12. Het dieselfde Hizkiyahu nie Sy hoë plekke en Sy altare verwyder en Y’hudah en Yerushalayim beveel en gesê: ‘Voor één altaar moet julle jul neerbuig en daarop wierook offer?’ nie.
13. Miskien weet julle wat ék en my vaders aan al die volke van die ander lande gedoen het? Die gode van die nasies van daardie lande was nie in staat om hulle lande uit my hand te bevry nie.
14. Wie was daar onder al die gode van daardie nasies, wat my vaders volkome vernietig het, wat in staat was om sy volk uit my hand te bevry dat יהוה julle uit my hand sou kon bevry?