2 Konings 9:23-37 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

23. Y’horam het omgeswaai en gevlug en vir Agazyah gesê: “Verraad, Agazyah!”

24. Yehu het sy boog met sy volle sterkte gespan en Y’horam tussen sy arms geskiet; die pyl het deur sy hart gegaan en hy het in sy wa inmekaargesak.

25. Toe sê hy vir Bidkar, sy offisier: “Tel hom op, gooi hom op die stuk grond van Navot, die Yizre’eliet, want ek onthou toe ek en jy saam agter sy vader Ag’av gery het dat יהוה hierdie uitspraak oor hom gegee het:1 Kon 21:19-29

26. ‘Ek het sekerlik gister die bloed van Navot en die bloed van sy seuns gesien, sê יהוה en Ek sal jou op hierdie stuk grond terugbetaal, sê יהוה.’ Tel hom dan nou op en gooi hom op die stuk grond volgens die woord van יהוה.

27. Toe Agazyah, koning van Y’hudah, dit sien, het hy gevlug op die pad na Beit-HaGan. Yehu het hom ook agtervolg en gesê: “Skiet hom ook in die strydwa!” Hulle het hom geskiet by die hoogte van Gur by Yivle’am, maar hy het na Megiddo gevlug en daar gesterf.

28. Sy diensknegte het hom toe in ’n strydwa na Yerushalayim gevat en hom in sy graf by sy vaders begrawe in die stad van Dawid.

29. In die elfde jaar van Y’horam, die seun van Ag’av, het Agazyah koning oor Y’hudah geword.

30. Toe Yehu in Yizre’el gekom het, het Izevel daarvan gehoor en sy het haar oë geverf en haar kop versier en by die venster uitgekyk.1 Kon 16:10-20

31. Terwyl Yehu deur die poort inkom, sê sy: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid, Zimri, moordenaar van jou meester!”

32. Toe het hy sy gesig opgelig na die venster en gevra: “Wie is aan my kant? Wie?” Twee of drie amptenare het afgekyk na hom.

33. Hy sê: “Gooi haar af!” Hulle het haar afgegooi en van haar bloed het teen die muur en teen die perde gespat en hulle het haar vertrap.

34. Hy het ingegaan en geëet en gedrink en hy het gesê: “Kyk tog na dié vervloekte vrou en begrawe haar, want sy is ’n koningsdogter.”

35. Hulle het gegaan om haar te begrawe, maar hulle het niks meer van haar gekry as net die skedel, die voete en die palms van haar hande nie.

36. Hulle kom daarom terug en vertel hom en hy sê: “Dit is die woord van יהוה wat Hy deur sy kneg Eliyahu, die Tishbiet, gepraat het, naamlik: “Op die eiendom van Yizre’el sal die honde die vlees van Izevel eet

37. en die lyk van Izevel sal soos mis op die land wees op die eiendom van Yizre’el sodat hulle nie sal kan sê: ‘Dit is Izevel’ nie.”

2 Konings 9