2 Konings 9:17-27 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

17. Die wag het op die toring in Yizre’el gestaan en die geselskap van Yehu gesien soos hy aankom en gesê: “Ek sien ’n geselskap.” Y’horam sê: “Vat ’n ruiter en stuur hulle tegemoet en laat hom vra: ‘Is dit vrede?’”

18. ’n Perderuiter het hom tegemoet gegaan en gesê: “So vra die koning: ‘Is dit vrede?’” Yehu antwoord: “Wat het jy met vrede te doen? Draai in agter my!” Die wag het rapporteer: “Die boodskapper het by hulle gekom, maar hy het nie teruggekom nie.”

19. Toe stuur hy ’n tweede perderuiter, wat by hulle kom en sê: “So vra die koning: ‘Is dit vrede?’” Yehu antwoord: “Wat het jy met vrede te doen? Draai in agter my!”

20. Die wag het gerapporteer: “Hy het tot by hulle gekom en hy kom nie terug nie en die ry is soos die ry van Yehu, die seun van Nimshi, want hy ry verwoed.”

21. Toe sê Y’horam: “Maak gereed.” Hulle het sy strydwa gereed gemaak. Y’horam, koning van Yisra’el en Agazyah, koning van Y’hudah, het uitgegaan, elkeen op sy strydwa en hulle het uitgegaan om Yehu te ontmoet en hom gekry op die stuk grond van Navot, die Yizre’eliet.

22. Toe Y’horam vir Yehu sien, sê hy: “Is dit vrede, Yehu?” Hy antwoord: “Watter vrede, solank as wat die hoereerderye van jou moeder Izevel en haar toorderye so baie is?”

23. Y’horam het omgeswaai en gevlug en vir Agazyah gesê: “Verraad, Agazyah!”

24. Yehu het sy boog met sy volle sterkte gespan en Y’horam tussen sy arms geskiet; die pyl het deur sy hart gegaan en hy het in sy wa inmekaargesak.

25. Toe sê hy vir Bidkar, sy offisier: “Tel hom op, gooi hom op die stuk grond van Navot, die Yizre’eliet, want ek onthou toe ek en jy saam agter sy vader Ag’av gery het dat יהוה hierdie uitspraak oor hom gegee het:1 Kon 21:19-29

26. ‘Ek het sekerlik gister die bloed van Navot en die bloed van sy seuns gesien, sê יהוה en Ek sal jou op hierdie stuk grond terugbetaal, sê יהוה.’ Tel hom dan nou op en gooi hom op die stuk grond volgens die woord van יהוה.

27. Toe Agazyah, koning van Y’hudah, dit sien, het hy gevlug op die pad na Beit-HaGan. Yehu het hom ook agtervolg en gesê: “Skiet hom ook in die strydwa!” Hulle het hom geskiet by die hoogte van Gur by Yivle’am, maar hy het na Megiddo gevlug en daar gesterf.

2 Konings 9