2 Konings 8:4-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

4. Die koning het met Geigazi, die dienskneg van die man van God, gepraat en gesê: “Vertel my asseblief al die groot dinge wat Elisha gedoen het.”

5. Terwyl hy die koning vertel hoe hy die een wat dood was lewendig gemaak het, let op, appelleer die vrou wie se seun hy lewendig gemaak het, tot die koning vir haar huis en haar grond. Geigazi sê: “My meester, o koning, hierdie is die vrou en hierdie is haar seun, wat Elisha lewendig gemaak het.”

6. Toe die koning die vrou vra, het sy hom vertel. Toe stel die koning vir haar ’n sekere amptenaar aan en sê: “Herstel alles wat aan haar behoort en ook die hele opbrengs van die grond, van die dag af dat sy die land verlaat het, tot nou toe.”

7. Elisha het na Dammesek gekom. Ben-Hadad, die koning van Aram, was siek en dit is vir hom gesê: “Die man van God het hierheen gekom.”

8. Die koning sê vir Haza’el: “Vat ’n geskenk in jou hand en gaan ontmoet die man van God en doen navraag by יהוה deur hom en vra: “Sal ek van hierdie siekte herstel?”

9. Haza’el het hom gaan ontmoet en ’n geskenk van veertig kameelvragte in sy hand gevat, allerhande goeie goed van Dammesek en hy het gekom en voor hom gaan staan en gesê: “U seun Ben-Hadad, koning van Aram, het my na u toe gestuur om te vra: “Sal ek herstel van hierdie siekte?”

10. Elisha antwoord hom: “Gaan, sê vir hom: ‘Jy sal sekerlik herstel,’ maar יהוה het my laat sien dat hy sekerlik sal sterf.”

11. Hy het strak na hom gekyk totdat hy verleë was en die man van God het gehuil.

12. Haza’el sê: “Waarom huil my meester?” Toe antwoord hy: “Omdat ek weet watter boosheid jy die seuns van Yisra’el sal aandoen; jy sal hulle vestings aan die brand steek en hulle jongmanne met die swaard doodmaak en hulle jong kinders verpletter en hulle swanger vroue oopsny.”1 Kon 19:15

13. Toe sê Haza’el: “Wat is u dienskneg, ’n hond, dat hy hierdie groot ding sou doen?” Elisha antwoord: “יהוה het my gewys dat jy koning oor Aram sal wees.”

2 Konings 8