1 Korinthiërs 7:5-16 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

5. Onthóu julle nie van mekaar nie, behalwe as julle albei saamstem oor ’n bepaalde tyd met die doel om julle aan vas en gebed te kan wy en kom terug na plesier sodat die teëstander julle nie versoek deur die begeertes van julle liggame nie.

6. Dit sê ek egter aan die swakkeres, nie by wyse van opdrag nie,

7. want ek wens dat alle mense in reinheid soos ek was, maar elkeen het sy eie geestelike gawe van God, die een so, maar die ander weer anders.

8. Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek, dit is voordelig as hulle bly soos ek,

9. maar as hulle nie kan volhard nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand.

10. Aan die getroudes beveel ek, nie ek nie, maar die Meester, dat die vrou nie van haar man mag weggaan nie

11. en as sy tog van hom af weggaan, moet sy ongetroud bly, of haar verhouding met haar man herstel en die man moet sy vrou nie in die steek laat nie.

12. Vir die ander sê ek, nie my Meester nie, as enige broer ’n ongelowige vrou het en sy dit goeddink om saam met hom te bly, moet hy haar nie verwerp nie

13. en as enige vrou ’n ongelowige man het en hy dit goeddink om saam met haar te bly, moet sy hom nie verwerp nie,

14. want die ongelowige man is afgesonder deur die vrou en die ongelowige vrou is afgesonder deur die man, want anders sou julle kinders ‘onrein’ wees, maar nou is hulle afgesonder.

15. As die ongelowige wil weggaan, laat hom weggaan. In sulke gevalle is die broer of suster nie as slaaf gebind nie, maar God het ons tot vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid geroep,

16. want hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die vrou sal red?

1 Korinthiërs 7