Spreuke 7:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Jong vriend, onthou wat ek jou oor die lewe geleer het. Bêre my voorskrifte in jou gemoed. Leef daarvolgens en jy sal gelukkig wees.

2. Laat my voorskrifte vir jou so kosbaar soos die lewe self wees. Bind dit soos ’n stukkie lint aan jou vinger.

3. Graveer dit so diep in jou hart dat jy dit nooit vergeet nie.

4. Maak die spreuke se wysheid so jou eie dat dit vir jou soos ’n geliefde suster sal wees. Word met die spreuke se voorskrifte so bekend soos ’n mens ’n familielid baie goed leer ken.

5. Dan sal dit jou teen die los vrou beskerm, teen die soet, verleidelike woorde van ’n vreemde vrou.

6. Op ’n dag het ek by my venster gesit.

7. Deur die kantgordyn het ek ’n klomp mense gesien. Hulle was dom. Hulle het nie geweet hoe om reg en gelukkig te leef nie. Onder hulle was daar veral een jongman. Hy was nog dommer as die ander.

8. Hy het opgetree asof hy nie verstand het nie.

9. Net voordat dit heeltemal donker was, het hy ongemerk na die straathoek toe gestap.

10. Dit was die plek waar daar altyd ’n vrou gestaan het. Hy wou nog vinnig met die trappe na haar huis opdraf toe die vrou hom sien. ’n Mens kon aan haar kleredrag sien sy is ’n straatvrou.

11. Sy was listig, slu en geslepe. Haar huis het te klein vir haar geword. Sy moes net uit.

12. In die strate, op die markpleine en elke straathoek het sy mans ingewag.

Spreuke 7