Spreuke 6:11-20 Die Boodskap (DB)

11. Dan sluip die armoede jou lewe so ongemerk binne soos ’n skelm. Jy sal nie ’n verhoging kry nie. Dan sal armoede jou lewe so ernstig bedreig soos ’n gewapende man.

12. Daar is ’n mens aan wie jy net nooit ’n vat kan kry nie. Hy praat nou sus en later so. Sy woorde is bedrieglik.

13. Jy kan nooit daarop peil trek nie. Met die trek van sy oë, die geskuifel van sy voete en die wys van sy vingers lei hy mense om die bos.

14. In sy hart bedink hy heeltyd skelm planne. Waar hy is, is daar altyd rusie.

15. ’n Skielike ramp sal hom nog tref. In ’n oogwink sal hy byna vernietig word. Hy sal nooit weer regkom nie.

16. Kyk, daar is ses dinge waarvan die Here niks hou nie, sewe dinge wat Hy haat.

17. Oë wat hoogmoed weerkaats, ’n tong wat leuens vertel,

18. ’n hand wat ander se ondergang bewerk, ’n hart wat net slegte dinge dink, voete wat haastig na die kwaad toe hardloop,

19. ’n vals mens wat na elke asemteug net leuens uitasem, en ’n rusverstoorder wat die liefde tussen mense wegvat.

20. Jongman, jou ouers se opvoeding is belangrik. Hou vas aan die reëls wat jy by jou pa gekry het. En jou ma se lesse moet jy nooit vergeet nie.

Spreuke 6