Spreuke 11:18-25 Die Boodskap (DB)

18. ’n Skurk se optrede bring min lewensvreugde. Wie vir ander mense omgee, se lewe sal vol blydskap wees.

19. Wie die Here opreg dien, ervaar die lewe in al sy volheid. Wie verkeerde dinge doen, is dood, al haal hy nog asem.

20. Mense wat net aan verkeerde dinge dink, maak die Here baie kwaad. Hy is baie gelukkig met hulle wat reg leef.

21. Niks staan vaster as ’n slegte mens se straf nie. ’n Gelowige se nageslag sal gelukkig wees.

22. Iemand sonder insig en die regte lewenstyl is soos ’n vark met ’n goue ring.

23. Gelowiges het altyd hoop. Ongelowiges se drome lei tot frustrasie en ellende.

24. Wie baie vir ander gee, word al hoe ryker. Wie suinig is, word al hoe armer.

25. Wie ander help om beter te lewe is self voorspoedig. Wie ander se nood raaksien, is ’n gelukkige mens. As jy ander help, sal jy gehelp word as jy dit nodig het.

Spreuke 11