Rigters 9:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Op ’n dag het Gideon se seun Abimelek by sy ma se familie in Sigem gaan kuier. Hy het vir hulle en vir almal wat daar by hulle was, gesê:

2. “Vra ’n bietjie vir die mense van Sigem: Wat sou julle verkies? Om al 70 Gideon se seuns as leiers te hê of eerder net een? Maar onthou net, ek is julle bloedfamilie!”

3. Abimelek se familie het toe met sy voorstel na die inwoners van Sigem toe gegaan. Hulle het besluit om hom te volg aangesien hy, soos hulle gesê het, “een van ons is”.

4. Hulle het vir hom ongeveer een kilogram silwer uit Baäl-Berit se tempel gegee. Hy het dit gebruik om vir hom ’n klomp leeglêers te huur om sy volgelinge te wees.

5. Hy is toe saam met hulle daar weg na sy pa se huis toe in Ofra. Daar het hy al 70 sy broers, almal Gideon se seuns, op een klip doodgemaak. Die enigste een wat oorgebly het, was Jotam, Gideon se jongste seun, want hy het weggekruip.

6. Toe het al die inwoners van Sigem en Bet-Millo bymekaargekom by die groot eikeboom langs die klippilaar wat hulle aanbid het. Daar het hulle toe vir Abimelek as koning gekroon.

7. Toe Jotam hiervan te hore kom, het hy op die berg Gerisim geklim en hard vir hulle geskree: “Luister na my, mense van Sigem, dan sal God dalk na julle luister!

Rigters 9