Rigters 15:3-9 Die Boodskap (DB)

3. Toe sê Simson: “Hierdie keer kan ek regtig nie verantwoordelik gehou word vir wat ek aan die Filistyne gaan doen nie.”

4. Hy is toe daar weg. Hy het 300 jakkalse gaan vang en hulle sterte twee-twee aan mekaar vasgemaak. Toe het hy fakkels gevat en tussen elke paar sterte ’n fakkel vasgemaak.

5. Hy het die fakkels aan die brand gesteek en die jakkalse tussen die Filistyne se oeste ingejaag. Hy het al hulle koring afgebrand, dié wat nog in miede gelê het, sowel as dié wat nog op die lande was. Hy het ook hulle wingerde en hulle olyfbome aan die brand gesteek.

6. Toe die Filistyne vra: “Wie het dit gedoen?” was die antwoord: “Simson, want sy skoonpa uit Timna het sy vrou vir sy strooijonker gegee.” Die Filistyne het toe gegaan en die vrou en haar pa gevat en hulle met hulle huis en al verbrand.

7. Simson het toe vir hulle gesê: “Is dit hoe julle optree? Nou belowe ek julle ek sal nie ophou voordat ek julle almal terugbetaal het nie!”

8. Hy het verwoed onder hulle ingeklim en baie van hulle doodgemaak. Daarna het hy in ’n grot by die rots van Etam gaan bly.

9. Die Filistyne het toe kamp gaan opslaan in Juda en strooptogte teen die dorp met die naam Legi uitgevoer.

Rigters 15