Psalms 21:6-14 Die Boodskap (DB)

6. Mense dink baie van hom omdat U hom gehelp het.Daarom bewys mense groot respek en eer aan hom.

7. U laat dit altyd goed gaan met hom.Hy loop oor van blydskap omdat U altyd naby hom is.

8. Die koning vertrou die Here heeltemal. Omdat die Allerhoogste getrou is, loop niks vir hom verkeerd nie.

9. U sal u vyande in die hande kry en hulle oorweldig.

10. Soos ’n vuur wat alles voor hom wegbrand, so sal die Here sy vyande uitwis.Die Here sal hulle van die aarde afvee omdat Hy vir hulle kwaad is.

11. Mense sal nie eens meer van hulle of hulle kinders weet nie. Hulle nageslag sal nie bestaan nie.

12. Hulle sal allerhande planne teen U maak,maar nie een plan sal uitwerk nie.

13. Want U sal hulle straf. U sal maak dat hulle ver weghardloop. Hulle sal vlug.

14. Wys tog vir ons hoe sterk U is, Here.Dan sal ons opgewonde ons liedere sing om vir almal te vertel hoe sterk U regtig is.

Psalms 21