Psalms 18:31-47 Die Boodskap (DB)

31. God se pad is volmaak. Jy kan alles glo wat Hy sê.Hy beskerm almal wat by Hom kom wegkruip.

32. Want wie anders as die Here is die enigste ware God?En by wie anders kan ’n mens gaan wegkruip as by God?

33. God gee my al die krag wat ek nodig het.Hy laat my voorspoedig gaan.

34. Niemand kan my vang nie.Ek sal nie neerslaan nie.

35. U wys my hoe om teen my vyande te veg en te wen. U maak my sterk.

36. U self beskerm my en red my waar ek U nodig kry.U het moeite gedoen en my gehelp. U was baie goed vir my.Ek was ’n oorwinnaar.

37. Ek het selfversekerd gedoen wat ek gedoen het. Ek het nie getwyfel nie.

38. My vyande kon nie wegkom nie. Ek het nie opgehou tot ek die laaste een oorwin het nie.

39. Ek het hulle platgeloop.Hulle sou nie sommer weer opstaan nie. Hulle het onder my voete beland.

40. Maar ek kon dit net doen omdat U my die krag gegee het. U het my vyande voor my laat kniel.

41. Dis eintlik U wat my vyande vir my oorwin. U het gesorg dat hulle weghardloop.So kon ek die mense wat nie van my hou nie se mag heeltemal breek.

42. Hulle smeek iemand om hulle te help, maar daar is niemand nie.Nou skielik vra hulle die Here om te help, maar Hy steur Hom nie aan hulle nie.

43. Ek het hulle mag totaal gebreek, soos klip wat ’n mens fynmaal soos stof en in die wind rondstrooi, of soos modder wat jy in die pad gooi vir almal om op te trap. Ek het hulle vertrap.

44. U het my gehelp om uit die kloue te kom van hierdie mense wat net wil baklei.Nou is ek hulle koning en moet hulle na my luister.Mense wat ek eers nie geken het nie, moet my nou dien.

45. As hulle net van my hoor, luister hulle al! Vreemde mense kom bewend nader.Hulle probeer nie eens teen my veg nie.

46. Hulle gooi sommer dadelik die handdoek in. Hulle gee dadelik oor.

47. Die Here leef! Ek wil vir die Here baie dankie sê omdat Hy my so beskerm.Ek wil sy Naam grootmaak omdat Hy my gered het.

Psalms 18